|

AfriForum snoei bome om die Strand veiliger te maak

AfriForum se Strand-tak het op 2 Maart in samewerking met die Strand Patrol-buurtwag verskeie bome en bosse by Gants Plaza in die stegie by Mynhardtstraat gesnoei in ’n poging om die area te beveilig.

Die projek is geloods nadat die tak verskeie klagtes oor die ongesnoeide bome ontvang het en die munisipaliteit nie aandag aan inwoners se klagtes daaroor geskenk het nie. Die bosse het veral ’n veiligheidsrisiko vir voetgangers ingehou, aangesien daar heelwat voetgangers die afgelope tyd in die area aangeval is deur misdadigers wat in die bosse geskuil het.

“Vandag wil ons as die AfriForum Strand-tak en -buurtwag elke vrywilliger bedank wat hulle tyd opgeoffer het om te kom uithelp met hierdie projek. Ons is dankbaar om ook op hierdie manier ’n bydrae te lewer tot die Strand-gemeenskap en ons sal aanhou om ons gemeenskappe te dien en meer weerbaar te maak,” sê KC Gericke, AfriForum se voorsitter van veiligheid in die Strand.

“Projekte soos hierdie, waar die gemeenskap saamstaan om ’n verskil te maak, dra werklik by tot meer selfstandige gemeenskappe. Daar sal reëlings getref word om dieselfde ook in ander areas in die Strand te doen,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland.

Sluit vandag nog aan by AfriForum se Strand-tak: SMS “Strand” na 45350.

Soortgelyke plasings