|

AfriForum-buurtwag keer rowers aan ná panga-aanval

AfriForum se Lichtenburg-buurtwag het in die vroeë oggendure van Saterdag (11 Mei) twee verdagtes aangekeer wat verbind is met ’n roof met ’n panga in dié dorp vroeër dieselfde aand.

Buurtwaglede het teen omstreeks 02:00 gereageer op ’n noodoproep van ’n inwoner wat twee verdagtes op die hoek van Tweede Laan en Kerkstraat opgemerk het. Die buurtwaglede het hul na die toneel gehaas waar die een verdagte gewapen met ’n panga aangetref is. Tydens ondervraging het die verdagte dit laat blyk dat hy dié wapen vir selfverdediging dra.

’n Burgerlike arrestasie is egter uitgevoer nadat die buurtwag kennis van ’n roof ontvang het waarby die einste verdagtes betrek is.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is dadelik van die situasie in kennis gestel.

Terwyl daar op die SAPD gewag is, het lede van ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy Neokor ook op die toneel aangekom en bevestig dat die verdagtes verbind word met ’n roof wat dieselfde aand plaasgevind het. Die verdagtes is met behulp van moniteringskameras op die misdaadtoneel uitgeken. 

Een saak van roof word nou deur die polisie ondersoek.

“Die samewerking tussen AfriForum se Lichtenburg-buurtwag, die gemeenskap, die plaaslike polisie en Neokor, het vir nog ’n sukses gesorg en beklemtoon dat die stryd teen misdaad deur die gemeenskap as ’n eenheid gepak moet word,” verduidelik Armand Viljoen, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Marico-distrik.

Viljoen benadruk dat inwoners paraat moet bly en enige verdagte optrede so gou moontlik by die buurtwag, polisie of sekuriteitsmaatskappye moet aanmeld.

Soortgelyke plasings