|

Klerksdorp-tak daag Matlosana Plaaslike Munisipaliteit voor die hof

AfriForum het op 24 Maart die eerste sarsie in ’n hofgeding oor die voortslepende rioolprobleme teen die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit in die Noordwes-hooggeregshof in Mahikeng afgevuur. Die organisasie wil ’n hofbevel bekom vir dringende herstelwerk by die rioolaanleg, asook dat die munisipaliteit tot verantwoording geroep moet word.

Die munisipaliteit het AfriForum ter elfder ure geopponeer. Die uitspraak was egter dat die munisipaliteit AfriForum se koste van die hofverrigtinge moet dra en die saak is uitgestel tot 14 April 2022.

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het reeds in April 2021 ’n dringende skrywe aan die Matlosana-munisipaliteit gerig oor die haglike toestand van die rioolwerke. Die feit dat die meeste van die masjienerie op die rioolwerke buitewerking is, het tot gevolg dat rou riool direk in Schoonspruit invloei.

AfriForum het kenners aangestel wat ’n verslag met aanbevelings aan die munisipaliteit voorsien het om die rioolwerke weer in ’n werkende toestand te kry. Die munisipaliteit het egter nie gehoor hieraan gegee nie en is dus voor die hof gedaag.

Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, sê die gemeenskap is keelvol vir verskonings en swak of geen dienslewering.

“Dit is betreurenswaardig dat die munisipaliteit gedwing moet word om hul grondwetlike plig om ’n skoon en veilige omgewing te verseker, na te kom. Ons het geen keuse as om die hooggeregshof te nader vir verligting nie,” verduidelik Roos.

“AfriForum sal hierdie saak nie laat gaan nie. Dit is onaanvaarbaar dat ons spruite en riviere so besoedel word bloot omdat die munisipaliteit nie hulle werk doen nie. Dit is uiters onregverdig dat ons lede, wat almal belastingbetalers is, aan sulke onbevoegdheid en onwilligheid blootgestel word, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om die munisipaliteit tot verantwoording te roep. Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings