AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark gaan begraafplaas patrolleer


Die AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark se nuwe strategie om veiligheid by die plaaslike begraafplaas op te skerp sluit gereelde patrollies in. Dít volg nadat die buurtwag talle klagtes oor die onveilige toestand van dié begraafplaas ontvang het.
Die burgerregte-organisasie het reeds talle skoonmaakaksies by die begraafplaas uitgevoer en gaan voortaan ook ’n verskerpte fokus op die veiligheid daarvan plaas.

“Ons moedig die publiek aan om die plaaslike tak te kontak vir meer inligting oor die datums en tye van die patrollies, sodat hulle hul geliefdes se grafte in dié tydgleuwe kan besoek. Ons vertrou dat hierdie inisiatief behoorlik vrugte sal afwerp en hoop om met hierdie proaktiewe optrede misdaad die nekslag toe te dien,” sê Cor Schonborn, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag.
“Die AfriForum-tak en -buurtwag in Vanderbijlpark is vasberade om misdaad in die dorp te bekamp. Inisiatiewe soos hierdie maak dit moontlik vir gemeenskapslede om vry, veilig en voorspoedig te kan voortbestaan,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid.

Die volgende patrollie vind op 15 Oktober 2017 tussen 10:00 en 15:00 plaas.
Raak vandag nog betrokke: SMS “VDBP” na 45342 om by AfriForum aan te sluit (R1).
 

Soortgelyke plasings