|

AfriForum-buurtwag en Oakdale Watch span saam om brand by laerskool te blus

AfriForum se Bellville-buurtwag, wat deel vorm van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak, het op 18 Februarie 2020 in samewerking met Oakdale Watch en wetstoepassers ’n brand in een van Laerskool Bellpark se klaskamers geblus, nadat die klaskamer deur ’n brandstigter aan die brand gesteek is. ’n Buurtwaglid van Oakdale Watch het omstreeks 05:00 ’n oproep van die skool se opsigter ontvang wat bevestig het dat daar ’n verdagte persoon op die skool se perseel opgemerk is.

Die opsigter en ’n patrolleerder van Oakdale Watch het die skoolterrein deursoek en die verdagte gewaar wat gevlug het nadat hy die brand gestig het. Ná spoedige optrede en goeie samewerking tussen AfriForum se Bellville-buurtwag, Oakdale Watch en ander rolspelers is die brand met emmers water geblus.

“Ons is dankbaar dat die rolspelers gemoeid met veiligheid in die gemeenskap en die buurtwaglede so oplettend is. Ons kan nie toelaat dat wetteloosheid seëvier nie – veral nie by kwesbare plekke soos ons plaaslike skole nie,’’ sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se Kaapstad-Noord-tak betrokke om sodoende self ’n verskil in die gemeenskap te maak: SMS “Kaapstad-Noord” na 45265 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings