|

AfriForum-buurtwagte in Mooirivier neem deel aan nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Mooirivier het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 8 en 9 Julie in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 04:00 die volgende oggend voortgeduur.

232 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 9 414 km in 160 voertuie afgelê. Daar het ook 103 persone van ander instansies, soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye deelgeneem. Die buurtwagte wat deelgeneem het was Bothaville, Parys, Sasolburg, Songloed, Hartbeesfontein-buurt en plaaswag, Potchefstroom, Stilfontein, Orkney, Ventersdorp en Wolmaransstad.

Daar was 11 insidente in die streek wat wissel van ongelukke, betreding, hantering van persone onder die invloed van drank en dwelms en poging tot inbraak. Waar arrestasies gemaak is, is die verdagtes aan die polisie oorhandig. Die twee buurtwagte in Hartbeesfontein het saam met die SAPD tydens ’n padblokkade R30 000 se boetes uitgeskryf.

“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Veral tydens beurtkrag, waar misdaad hoogty vier, is hierdie buurtwagte altyd meer as bereid om hulle tyd vir hulle gemeenskappe op te offer. Ek wil hulle spesiaal bedank dat al hierdie buurtwagte bereid was om aan die nasionale patrollie deel te neem, die koue ten spyt,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings