|

AfriForum-buurtwagte neem deel aan nasionale patrollie

AfriForum se buurtwagte in die Boland en aan die Weskus het die afgelope naweek aan ’n nasionale patrollie deelgeneem. Verskeie private sekuriteitsmaatskappye, 287 lede van AfriForum en 143 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het aan die patrollie deelgeneem. Hulle het sowat 176 voertuie gebruik, ongeveer 7 304 km afgelê en 19 insidente hanteer.

Omdat die Wes-Kaap die afgelope tyd deur ’n misdaadvlaag getref is en veral die getal plaasaanvalle kommerwekkend hoog is, is besluit om sigbaarheid met dié patrollie te verhoog.

AfriForum se buurt- en plaaswagte, veral die splinternuwe strukture in Gordonsbaai, Paarl en Hopefield, het hulle goed van hul taak gekwyt. Die opskerping van patrollies en bemanning van observasieposte help nie net met misdaadvoorkoming nie maar ook met die insameling van inligting. Verskeie arrestasies is in samewerking met die plaaslike polisie gemaak en verkeersboetes van meer as R20 000 is uitgereik.

“Die statistieke toon duidelik hoe misdaad toeneem, daarom is ons dankbaar vir dié inisiatief wat arrestasies moontlik maak en help om misdaad te voorkom. Oor die algemeen is daar ’n goeie samewerkingsverhouding tussen die SAPD en ons buurtwagte en daarom word suksesse behaal. Ons wil graag ander polisiestasies en hul lede aanmoedig om ook betrokke te raak,” sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Weskus.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-tak of -buurtwag betrokke te raak. Skakel gerus vir Johan Crous by 081 217 0150.

Soortgelyke plasings