|

Springbok-tak maak resultate van watergehalte aan inwoners van Nama Khoi Munisipaliteit bekend

AfriForum se Springbok-tak het die resultate van watermonsters wat onlangs deur ’n geakkrediteerde laboratorium getoets is aan die inwoners van die Nama Khoi Munisipaliteit bekend gemaak.

Die drinkwater wat deur die Nama Khoi Munisipaliteit aan die inwoners van Springbok en omliggende dorpe voorsien word, is onlangs getoets as deel van ’n landswye inisiatief deur AfriForum, #SkoonWater, wat reeds in 2019 geloods is. Deur hierdie toetse jaarliks te doen, verseker AfriForum gemoedsrus vir sy lede en die breër publiek.

“Dit is met ’n geruste hart dat ek die gemeenskap kan meedeel dat die drinkwater in ons krane skoon is en dat daar geen skadelike elemente teenwoordig is nie. Ons water is 100% geskik vir menslike gebruik. Om verdere sekerheid te verkry, is die water van die Oranjerivier stroomop van Henkries ook vir cholera getoets en die uitslag van die toetse was negatief,” sê Sarel Stone, voorsitter van die Springbok-tak.

“Hierdie watertoetse is ’n jaarlikse instelling en ons as bestuur van die Springbok-tak onderneem om volgende jaar weer soortgelyke toetse te laat doen en die uitslae bekend te maak. Ons doen dit omdat ons, as deel van die gemeenskap, besorg is oor die welstand en toestand van ons dorp, die omgewing en sy mense,” sluit Stone af.

Die Springbok-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om deel van die oplossing te wees en moedig die publiek aan om by dié tak betrokke te raak. Skakel gerus vir Werner Strauss by 081 217 1752 as jy wil betrokke raak.

Soortgelyke plasings