|

AfriForum se takke in Kalahari neem aan nasionale projekte deel

Die AfriForum-takke in Upington, Kakamas, Keimoes, Kuruman, Kathu, Williston en Springbok het gedurende September aan dié organisasie se nasionale blou-en-groendruppelprojek deelgeneem. Hierdie projek behels die toets van die dorpe se drinkwater asook die behandelde rioolwater wat terug in die sisteem geplaas word.

Hierdie takke het ook aan AfriForum se nasionale boomplantmaandprojek deelgeneem. Daar is altesaam 48 bome geplant by ouetehuise, skole, in parke en daar waar bome al in die dorpe doodgegaan het. Daar is onder meer kareebome, spekbome, lemmetjiebome en lemoenbome geplant.  AfriForum se takbestuurslede bedank graag die individue wat na die bome omsien wat reeds verlede jaar geplant is.

“AfriForum doen jaarliks die blou-en-groendruppelprojek om te verseker dat die water wat gemeenskappe gebruik skoon is, dat die riool wat behandel en terug in die sisteem geplaas word op standaard is en nie besoedeling veroorsaak nie. Die boomplantprojek is ook ’n baie belangrike projek. Die plant van bome bevorder nie net die omgewing nie, maar word ook gedoen om vandag se jeug aan te moedig om eendag hul eie bome te plant,” sê Werner Strass, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Die Kalahari-takke wil graag die gemeenskappe uitnooi om by toekomstigde projekte betrokke te raak.

Die gemeenskap word aangemoedig om by hul plaaslike AfriForum-tak aan te sluit om sodoende druk op die regering te plaas om hulle verpligtinge teenoor die gemeenskap asook hulle grondwetlike pligte na te kom: SMS “Upington” na 45350 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings