|

AfriForum-buurtwagte span saam om groter Mosselbaai-gemeenskap te beveilig

Verskeie AfriForum-buurtwagte het op 14 Julie in Groot-Brakrivier saamgekom om hul gemeenskap teen misdaad te beveilig. AfriForum se buurtwagte in Glentana, Groot-Brakrivier en Midbrak het om 16:00 die area in ’n konvooi begin patrolleer. Later het die konvooi in kleiner groepe verdeel om ’n groter grondgebied te dek. Die patrollie het tot 06:00 die volgende oggend geduur.

Daar het 87 buurtwaglede en meer as 50 motors aan die patrollie deelgeneem en 1 217 km is afgelê. Verskeie ander areas in die Suid-Kaap het ook deelgeneem, soos die Heroldsbaai-gemeenskap naby George, Albertinia en Riversdal in die Hessekwa-distrik en buurtwagte in Swellendam.

“Dit is verblydend om te sien hoe hoop geskep word deur ons gemeenskappe veilig te hou. Deur patrollies soos hierdie uit te voer, kan ons ’n daadwerklike verskil maak. Ons sal voortgaan om gemeenskapsveiligheid te bevorder en uit te bou ten spyte van vele uitdagings,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

“Gedurende die patrollie het inwoners hul dank van die sypaadjies af betuig. Ons is dankbaar dat die gemeenskap in groot getalle saamgestaan het en bedank hul deelname. Dié tak moedig die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan om in die toekoms ook aan die patrollie deel te neem. Saam is ons sterker,” sê Johan Scheepers, leier van die Groot-Brakrivier- buurtwag.

Sluit vandag aan by jou naaste AfriForum-tak of -buurtwag. Kontak Johan Scheepers by 083 460 0383.

Soortgelyke plasings