|

AfriForum dien kommentaar in op voorgestelde hersiening van Gautengse beheerliggaamregulasies

AfriForum het vandag kommentaar op voorgestelde wysigings aan beheerliggaamregulasies vir openbare skole in Gauteng ingedien. Hierdie voorstelle is op 1 November vanjaar in ’n buitengewone uitgawe van die Provinsiale Koerant gepubliseer. Belanghebbendes het geleentheid tot 30 November 2023 om skriftelike kommentaar daarop in te dien. AfriForum sal ook teenwoordig wees by die openbare raadplegingsessie wat vandag (24 November 2023) van 17:00 tot 19:00 by Hoërskool Silverton in Pretoria plaasvind.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die tydsberekening vir die hersiening van die regulasies vreemd. “Die nasionale beheerliggaamverkiesings sal vroeg in 2024 plaasvind. Duidelik is van die hersieningsvoorstelle daarop gerig, maar indien daar probleme met die vorige verkiesing was, was daar meer as twee jaar waarin die probleme uitgestryk kon word. Nou word ’n raadplegingproses onderneem in een van die besigste maande van die jaar, met beperkte kennisgewing aan belanghebbendes,” verduidelik sy.

Die wysigings het onder meer betrekking op die samestelling van beheerliggame van skole met leerders met spesiale behoeftes. Verder fokus dit ook op kwessies soos kworumvoorskrifte en waarnemers by verkiesings. Daar word ook voorgestel dat ’n persoon nie in ’n ampsposisie in die beheerliggaam van meer as een skool mag dien nie, wat veral in kleiner gemeenskappe moeilik kan wees en nie in die nasionale riglyne vir beheerliggame verbied word nie.

In AfriForum se kommentaar word beklemtoon dat die huidige kworumvereistes werk en nie aangepas moet word nie. Verder word gewys op voorskrifte wat nie met die nasionale riglyne strook nie, en terme wat nie behoorlik gedefinieer word nie. Daar word byvoorbeeld bepaal dat beheerliggame liasseerstelsels moet byhou, maar die formaat word nie bepaal nie, wat die langtermyn bewaring van dokumente op risiko kan plaas.

AfriForum doen ’n beroep op alle onderwysinstellings en belanghebbende individue om op kennisgewings oor die hersiening van bestaande wette en regulasies bedag te wees en aan raadplegingprosesse deel te neem. Dit sluit geleenthede vir kommentaar in die onderskeie provinsies op die omstrede Bela-wetsontwerp in.

  • Skriftelike kommentaar oor die voorgestelde wysigings aan beheerliggaamregulasies vir Gautengse openbare skole moet ingedien word by GDEcommentssgbregulations@gauteng.gov.za.
  • Soortgelyke plasings