AfriForum verwelkom openbaarmaking van Digital Vibes-verslag

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom die openbaarmaking van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor die Digital Vibes-korrupsieskandaal, maar veroordeel die feit dat ’n PAIA-aansoek eers gebring moes word voor dit kon gebeur.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is dit jammer dat die verslag ná so ’n lang tyd eers openbaargemaak is. “AfriForum het ’n aansoek om toegang tot inligting ingedien om die verslag in die hande te kry. Die staat het egter aspris voete gesleep voordat die verslag vandag uiteindelik deur die presidensie aan ons gestuur is. Dit is onaanvaarbaar dat hierdie soort aansoeke eers geloods moet word voor die publiek toegang kan kry tot inligting waarop hulle eintlik geregtig is,” voeg Kruger by.

Kruger sê verder dat die korrupsie wat in die verslag blootgelê word ’n duidelike bevestiging is dat AfriForum se belastingprotesveldtog meer as ooit nodig is.

“Die vermorsing van belastinggeld deur korrupte staatsamptenare het deel van Suid-Afrika se bestaan geword, ons kan dit eenvoudig nie langer aanvaar nie. Daarom is belastingprotesoptrede geregverdig en sal AfriForum sy veldtog verskerp,” sluit Kruger af.

Soortgelyke plasings