|

AfriForum se Nelspruit-tak loods grootskaalse skoonmaakprojek op die Kaapsehoop-pad

AfriForum se Nelspruit-tak het in samewerking met Wolf Plumbing & Maintenance die afgelope drie weke ’n grootskaalse skoonmaakprojek op die Kaapsehoop-pad van stapel gestuur.

Hierdie projek fokus op die pad vanaf die verkeerslig by die T-aansluiting by die Kaapsehoop-pad en Enos Mabuza-rylaan, tot by die brug net duskant die Friends Cafe-koffiehuis. Dié stuk pad is baie geliefd onder drawwers en sportliefhebbers as gevolg van die natuurskoon. Ongelukkig het die pad stelselmatig al hoe meer agteruitgegaan met vullis wat orals rondgestrooi lê en tans is dit ’n seeroog aangesien die munisipaliteit nie hulle verantwoordelikhede nakom nie.

Die tak het die gras gesny, ses wavragte vullis opgetel en verwyder, stromwaterslote skoongemaak, oortollige grond op die pad se skouers verwyder en menigte bome gesnoei om die gedeelte van die pad op te ruim.

“Dit is vir ons ’n voorreg om deel van die projek te wees, want op hierdie manier doen ons ook ons deel om terug te gee aan ons dorp,” sê Bruno Abetti, eienaar van Wolf Plumbing & Maintenance en lid van AfriForum se Nelspruit-tak.

“Oor die afgelope drie weke het ons reeds ’n reuseverskil gemaak en dit is lekker om te sien dat waar daar ’n wil is, daar ’n weg is. Ons beoog om tydens fase twee van die projek tien asblikke op verskillende punte op die pad te plaas. Ons wil vir die dorp wys dat die dorp aan ons as gemeenskap behoort en dat swak munisipale dienslewering nie jou selftrots kan wegneem nie,” se Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Laeveld-takke nooi graag lede van die publiek uit om deel van die projek te word om sodoende hierdie volhoubare projek te ondersteun.

Soortgelyke plasings