|

Wenners van eerste Groentjies-tuinkompetisie aangewys

AfriForum se Bo-Karoo-tak het in samewerking met verskeie rolspelers op 3 November die eerste wenner van Orania se Groentjies-projek aangewys.

Dié projek word gedryf deur ’n boer van die dorp wat kinders wil bemagtig met kennis om groente en vrugte te verbou om sodoende te help om voedselsekerheid in die dorp te vestig. AfriForum se Bo-Karoo-tak ondersteun hierdie volhoubare projek as ’n borg sowel as projekassistent.

“Ons tak sien die behoefte in die dorp vir vars produkte en ons is ook passievol om die jeug in die dorp te bemagtig om nie net ’n bydra tot die dorp te maak nie maar om hulself toe te rus met die nodige kennis om groente en vrugte te kweek asook die belangrikheid van iets soos ’n projekplan te leer,” sê Magdaleen Kleynhans, voorsitter van die AfriForum Bo-Karoo-tak gesê.

Die somergewas-kompetisie het reeds afgeskop en die projek gaan ook later uitgebrei word na veekunde.

“Die jeug is die toekoms en hoe lekker sal dit nie wees om te sien hoe een of meer van hierdie kinders ontwikkel in een van die streek se grootste boere nie? Dit is ook lekker om te sien hoe een van die dorp se uitdagings om vars groente en vrugte te bekom nou deur die kinders aangepak word,” sê Jacob Middel die projekleier van die Groentjies-projek.

Die wenners is elkeen met prysgeld en tuingereedskap beloon.

Hoërskool afdeling:

1ste plek: Ernst Kleynhans (R5 000 en tuingereedskap)

2de plek: Quinten Pohl (R2 500 en tuingereedskap)

Laerskool afdeling:

1ste plek: Wilber du Plessis (R5 000 en tuingereedskap)

2de plek: Jessica en Soné Gouws (R3 000 en tuingereedskap)

3de plek: Jessica Handford (R1 000 en tuingereedskap)

Die kinders se produkte is te koop by Orania Voedsel en Verwerking by die Horison Nywerheidskorf in Kareeboomlaan in Orania. Verskeie restaurante in die dorp maak ook reeds gebruik van die produkte.

AfriForum moedig ander organisasies en besighede in Orania aan om ook ’n bydrae tot die projek te lewer. Kontak Jacob Middel by 0823881409.

Sluit vandag nog by AfriForum se Bo Karoo-tak aan om ons hande in die streek sterk te maak: SMS “Bo-Karoo” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings