|

AfriForum se privaatvervolgingseenheid stel vrae oor die hantering van die saak teen Vuyo Mhlakaza-Manamela

Dit was met verbasing dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid verneem het dat die saak teen Vuyo Mhlakaza-Manamela in werklikheid vandag, 18 Augustus 2022, vir verhoor geskeduleer is. Die adjunkspeaker van die Gautengse Provinsiale Wetgewer staan ​​tereg op aanklagte van aanranding en crimen injuria, omdat sy na bewering ’n polisie BBP-beskermingsbeampte, sers. Lizzie Mojapelo, aangeval het.

Die saak is uitgestel, bloot omdat die voorsittende beampte nie beskikbaar was nie.

Mojapelo het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om nie te vervolg nie. Die saak is verlede jaar teruggetrek nadat senior aanklaers glo aan Mojapelo gesê het die saak sal moeilik vervolg word omdat die verdagte ’n hoëprofielpersoon is.

Die besluit om Mhlakaza-Manamela nie te vervolg nie, is hersien nadat die eenheid vertoë aan die Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging gerig het.

Vandag het die eenheid die volgende vasgestel:

 – Mhlakaza-Manamela het op 10 Augustus haar eerste verskyning op die heringeskrewe aanklagte gemaak.

 – Die dossier is vir die eerste keer op 10 Augustus aan die aanklaer gegee.

 – Die saak is op 18 Augustus vir verhoor geskeduleer.

Die eenheid sal aan die NVG skryf om te vra:

– Waarom is die klaer nie ingelig oor die eerste verskyning van die beskuldigde nie, en ook nie meegedeel dat die verskyning op 18 Augustus vir die doeleindes van verhoor was nie?

– In die lig van die gebeure vandag, dat die verhoor vandag sou begin, waarom het die aanklaer nie vooraf met die klaer gekonsulteer nie?

– Waarom is die saak ’n week ná die eerste verskyning vir verhoor geskeduleer toe die aanklaer klaaglik onvoorbereid blyk om voort te gaan?

Die eenheid sal verder navraag doen waarom die beskuldigde nie van inmenging in ’n polisiebeampte se pligte ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangekla is nie, omdat Mojapelo ten tyde van die voorval aan diens was.

Die eenheid glo dat die skielike dringendheid om van hierdie saak af te sien, daarop dui dat die NVG voortgaan om gunstig op te tree teenoor beskuldigdes wat polities verbind is.

Die omstandighede blyk ontwerp te wees om die staat te benadeel. Die eenheid vra – wie sal daarby baat?

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal nie net toekyk na wat blyk voorlopers van ’n onreg te wees wat geskep word deur die einste mense wat veronderstel is om slagoffers van misdaad te ondersteun nie.

Nietemin is die eenheid bly dat die saak uiteindelik op die rol geplaas is en Mojapelo ’n geleentheid sal kry om haar storie aan ’n landdros te vertel. Die eenheid sal breedvoerig met Mojapelo konsulteer en haar voorberei vir die datum waarop sy geroep word om te getuig.

Soortgelyke plasings