|

AfriForum moedig Unisa-studente aan om vir Afrikaans in taalvoorkeur-peiling standpunt in te neem

Op 22 September 2021 het die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer ten gunste van die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). AfriForum het dié saak teen Unisa aanhangig gemaak nadat die universiteit ’n nuwe taalbeleid ingestel het wat slegs vir Engels as onderrigmedium voorsiening gemaak het. In die uitspraak het die hof billikheidshalwe vir Unisa tot 2023 tyd gegee om die modules wat in 2016 in Afrikaans beskikbaar was, weer in Afrikaans beskikbaar te stel.

Dit het pas onder AfriForum se aandag gekom dat Unisa tans ’n opname oor taalvoorkeure onder studente doen. Volgens een van die studente wat reeds die peiling voltooi het, word die peiling ingelui met die versoek: “Help determine students’ perceptions regarding the reintroduction of Afrikaans as a language of teaching, learning and assessment without the parallel introduction of other official languages”.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is hierdie vraagstelling alreeds so moedswillig geformuleer dat dit Afrikaans as ’n vyand van ander tale uitbeeld, in plaas daarvan om dit aan studente duidelik te maak dat Afrikaanse onderrig ’n reg is wat op ongrondwetlike wyse van studente weggeneem is en bloot behou kon gewees het teen minimale koste, met die instelling van parallelle onderrig in ander tale as dit werklik die erns van Unisa was. “Die probleem is nie Afrikaans nie, maar die gebrek aan wil by universiteite om meer tale te akkommodeer. Die maklikste is dan om Afrikaans die sondebok te maak en uit te faseer, sodat alle studente in Engels probeer om die mas op te kom, terwyl Engels die moedertaal van minder as 10% Suid-Afrikaners is,” sê Bailey.

Unisa is tans in omstredenheid gehul oor onder meer die administratiewe probleme wat dit ervaar. AfriForum vind dit vreemd dat sodanige opname nou aandag geniet, in plaas van effektiewe dienslewering aan studente en die uitvoering van die Konstitusionele Hof se uitspraak. Bailey meen dat dit die indruk skep dat Unisa redes probeer vind om die hof se bevele te omseil.

AfriForum moedig alle studente wat tans by Unisa ingeskryf is om aan die opname deel te neem en hulle steun vir Afrikaanse onderrig duidelik te maak. “Die toekoms van ons taal as akademiese taal moet op alle moontlike wyses bevorder word. As studente nie die reg tot moedertaalonderrig opeis nie, gaan dit nóg vir Afrikaanse studente, nóg vir studente wat ander amptelike tale praat, in die toekoms ’n opsie wees,” voeg Bailey by.

Soortgelyke plasings