Malema vuurwapen-saak: Verdoemende onthullings deur ballistiese deskundige gemaak op vierde dag van hofsaak

Die vierde dag van die strafregtelike vervolging van Julius Malema, leier van die EFF, in die Oos-Londen Streekhof vir verskeie oortredings van die Wet op Beheer van Vuurwapens is verby. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg Malema uiteindelik amper vier jaar nadat die voorval plaasgevind het. Dit volg ná volgehoue druk deur AfriForum asook ’n brief van adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. AfriForum het die strafregtelike klagtes teen Malema en sy lyfwag, Adriaan Snyman, aanhangig gemaak in 2018.

Die ballistiese deskundige kol. Mngwadeka, wat die hoof forensiese ontleder vir die Oos-Kaap is, het vandag getuig dat hy die patroondoppie wat op die toneel van die voorval gevind is, kon koppel aan die vuurwapen wat deur Snyman vir ballistiese toetse ingehandig is. Mngwadeka het deskundige getuienis oor die aspekte van die vuurwapen se sluitstuk gegee waarna hy gevra is om leketerme te gebruik om dit te verduidelik. Mngwadeka het verduidelik dat, “die sluitstuk is verander ná die vuurwapen afgevuur is en voordat die vuurwapen vir inspeksie ingedien is.” Dit sal dus as verduideliking dien waarom die reeksnommers op die sluitstuk en die vuurwapen nie met mekaar ooreenstem nie. Dit wil voorkom of ’n deel van die vuurwapen wat ingehandig is vir ballistiese toetse, glo omgeruil is, wat dit moontlik moeiliker sal maak om die vuurwapen te koppel aan die patroondoppie wat op die toneel gevind is.

Volgens Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum, is vandag se onthullings in die hof verdoemend. “Die getuienis wat vandag deur die ballistiese deskundige aan die hof gelewer is plaas druk op die meerderheid verskonings of weergawes van die insident waarop Malema en Snyman se regspan staatgemaak het.”

Die saak sal more in die Oos-Londen Streekhof voortgaan.

Soortgelyke plasings