|

AfriForum eis dat Regspraktykraad eksamens in Afrikaans herinstel

AfriForum het in ’n skrywe aan die Regspraktykraad (RPR) geëis dat die raad se toelatingseksamens steeds in Afrikaans afgelê moet kan word. Dit geskied in reaksie op dié raad se kennisgewing aan kandidaatprokureurs dat toelatingseksamens voortaan slegs in Engels afgelê sal kan word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sou die RPR se verduideliking dat die afskaffing van Afrikaanse eksamens eintlik ’n regstelling is, lagwekkend gewees het as dit nie so kommerwekkend was nie. “Die RPR beweer Afrikaanse kandidate word onregmatig bevoordeel omdat hulle in hulle moedertaal geëksamineer word, terwyl die eksamens nie in enige ander inheemse taal afgelê kan word nie. Die oplossing is om taalregte uit te brei en die eksamenmateriaal in meer tale beskikbaar te stel. In plaas daarvan is die RPR se oplossing om net nog meer mense van hulle taalregte te ontneem. Hierdie is duidelik ’n aanslag teen Afrikaans en Afrikaanse regslui, en geen poging om enigeen se regte te beskerm of bevorder nie.”

Bailey noem dat AfriForum in die verlede peilings onderneem het wat duidelik bewys het dat regslui en hulle kliënte behoefte het aan die gebruik van hulle eie tale. “Hoewel die hofrekordtaal byvoorbeeld tans net Engels is, lewer regslui uitgebreide dienste aan die publiek. Hulle stel onder meer ook kontrakte en testamente op, bied advies aan oor uiteenlopende kwessies en pak litigasie aan. In al hierdie gevalle moet die kliënte die prosesse en inhoud van die dienste volkome verstaan. Dit is nie so goed moontlik in ’n tweede of derde taal, as in die kliënt se moedertaal nie. Misverstande weens vertaalfoute kan lei tot skade vir die kliënte, wanpraktyke en regsverydeling. Dit is daarom noodsaaklik dat Suid-Afrikaanse regslui nie net in Engels vaardig moet wees nie. AfriForum het ook in ons skrywe gevra watter stappe die RPR neem om eksamens in die toekoms in meer amptelike tale beskikbaar te maak.”

“Die RPR as regsliggaam behoort juis ’n dieper insig in die regte van mense en gemeenskappe te hê. Hierdie kortsigtige en vyandige besluit van hulle is tragies en moet teengestaan word. As die RPR nie positief op AfriForum se skrywe reageer nie, sal laasgenoemde in samewerking met ander liggame die nodige stappe neem om dit te doen,” sluit Bailey af. 

Soortgelyke plasings