|

AfriForum eis dringend antwoorde by Metro oor Melrose-huis

AfriForum het in ’n dringende brief aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit antwoorde geëis oor die toekoms van die Melrose-huis. Dit volg nadat dit onder die organisasie se aandag gekom het dat dié museum al maande lank vir herstelwerk gesluit is en dit volgens kennisgewing nog vir ’n onbepaalde tyd gesluit gaan bly.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het ’n groep die museum op 31 Mei besoek om die ondertekening van die Vredesverdrag van Vereniging te herdenk. ’n Hoogtepunt waarna uitgesien is, was die besoek aan die eetkamer van Melrose-huis waar dié verdrag op 31 Mei 1902 onderteken is om ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog te bring. Dit was dus ’n groot teleurstelling vir die groep om ’n kennisgewing op die geslote voordeur te vind wat die publiek inlig dat die huis vir ’n onbepaalde tyd gesluit is.

“’n Mediaberig het Vrydag getoon dat die gebou se interieur groot waterskade het. Ewe ontstellend is die tekens van verwaarlosing wat Woensdag buite die gebou waargeneem is – van die leë visdammetjie tot verbrokkelende vensterrame, roes op metaaloppervlakke, beskadigde geute, asook die behoefte aan verf oraloor. Melrose-huis is ’n juweel in die erfenislandskap van Pretoria en moet ten alle koste bewaar word,” sê Bailey.

AfriForum versoek dat die huidige probleme wat verhinder dat die museum kan heropen, bekendgemaak word. Met ramings van die koste daaraan verbonde om die gebou tot sy eertydse glorie te herstel, kan borge en skenkers betrokke raak en hoef dit nie verder agteruit te gaan omdat die munisipaliteit nie die koste op sy eie kan, of wil dra nie. AfriForum is bereid om by so ’n proses betrokke te raak. Bailey het verder beklemtoon dat museums baat by ’n groep betrokke vriende wat as vrywilligers kan help met instandhouding en fondsinsameling. Melrose-huis het so ’n groep gehad en dit kan herleef.

“Die huidige stand van sake is onaanvaarbaar en laat ’n mens met die negatiewe indruk dat die metroraad nie omgee vir erfenis nie. Daar is baie ander voorbeelde van museums en historiese geboue in Suid-Afrika wat onbepaald gesluit is totdat die koste om dit te restoureer, byna onhaalbaar geword het. Melrose-huis kan nie dieselfde pad volg nie. Met gemeenskapsbetrokkenheid kan erfenis bewaar word, daarom reik AfriForum uit en stel ons beskikbaar om hierdie saak verder met die metroraad te bespreek,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings