|

Hopefield-plaaswag ontvang veiligheidstoerusting en -opleiding

AfriForum se Weskus-tak het op 3 Junie die nuut gestigte Hopefield-plaaswag toegerus met veiligheidstoerusting en ook veiligheidsopleiding verskaf.

Hierdie veiligheidstoerusting is aan die Hopefield-plaaswag gegee sodat hulle behoorlik toegerus is om take in hul areas uit te rig en die gemeenskap doeltreffend kan beveilig gedurende patrollies.  Sidney Monk, die voorsitter van die Weskus-tak is opgewonde oor die toedrag van sake, en verwelkom die feit dat die gemeenskap self betrokke raak om hulle gemeenskappe in die Weskus te beveilig.

“Die afgelope twee weke is twee wrede plaasaanvalle in die Piketberg-distrik, wat deel vorm van die Weskus, gepleeg. Hierdie geweld kan nie toegelaat word nie daarom moet gemeenskappe hulself al hoe meer staal teen dié tipe aanvalle en alles in hulle vermoë doen om hulself te beveilig,” sê Monk.

Gedurende die naweek is die nuwe plaaswag opgelei om effektiewe patrollies uit te voer, en hulpmiddels effektief te gebruik.  Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus het dié opleiding behartig. Die plaaswag het verder opleiding ontvang in die uitvoer van operasies, regsaspekte, radiokommunikasie, vuurwapenwetgewing, toneelhantering, beskerming van huis en haard, administrasie, steunstelsels, en doeltreffende bevel en beheer. “Opleiding by AfriForum is ’n hoë prioriteit, want dit versterk ons gemeenskappe en stel hulle in staat om effektief saam met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te werk en ander rolspelers te ondersteun,” sê Crous.

“Ons is dankbaar vir AfriForum en dié tak wat ons bystaan met hulpbronne en opleiding. Dít gaan beslis ’n noemenswaardige verskil in die veiligheid van ons gemeenskap maak,” sê Roy Walsh verbonde aan die Hopefield-plaaswag.

Lede van die publiek word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit om sodoende hul omgewing te beveilig. Om by hierdie tak of buurtwag aan te sluit kontak Sidney Monk by 082 502 2349.

Soortgelyke plasings