|

Meerkat-veiling ten bate van AfriForum-traumaeenheid begin vandag

’n Veiling ten bate van die AfriForum-traumaeenheid se slagofferfonds begin vandag en duur tot Vrydag 30 Junie om 18:00. Alles van boerseep tot vakansieverblyf tot Schalk Burger snr. se memoires sal oor die volgende drie dae onder die hamer kom in die aanlyn veiling wat deur Meerkat Online Auctions aangebied word.

Schalk Burger se memoires sal opgeveil word.

Die AfriForum-traumaeenheid is in 2015 gestig om slagoffers van geweldsmisdaad, veral slagoffers van plaasaanvalle, te ondersteun. Kontaksessies met slagoffers is van kritieke belang en daarom ondersteun lede van dié eenheid slagoffers landwyd in plaasaanvalle en bied emosionele en praktiese ondersteuning aan sowel slagoffers as hul gesinne. Traumaberaders reis na slagoffers en maak seker dat hulle in ’n veilige en beskermde omgewing berading ontvang.

Berading help ook om die traumatiese impak en skok van die misdaad te help verlig, asook om sekondêre viktimisasie te voorkom en simptome van posttraumatiese stres by die slagoffer te identifiseer. ’n Pad word met elke slagoffer gestap wat begin met ’n eerste besoek kort ná die aanval en kan voortgaan tot ’n saak in die hof draai en afgehandel word.

“Die slagofferfonds is op die been gebring om te help om die misdaadtoneel op die plaas skoon te maak, om sekuriteit op te skerp en om mediese onkoste te dek waar die slagoffers dit nie self kan doen nie. Sedert 2019 is meer as R200 000 gebruik om aan die behoeftes van slagoffers te voorsien,” sê Izel Kruger, kantoor- en projekbestuurder van die AfriForum-traumaeenheid.

Meer as 50 lotte is by die veiling ingesluit. Die goedkoopste lot begin by R400 en van die duurder lotte beloop etlike duisende rand. Om te bie is eenvoudig: Laai die Meerkat-toep op jou slimtoestel af of bie op Meerkat se webwerf en onthou om hier vooraf te registreer.

Vakansieverblyf kom ook onder die hamer.

“Verlede jaar het ons meer as R60 000 ingesamel en ons versoek die publiek om vanjaar se veiling te ondersteun om dit nog groter te maak,” sê Kruger. “Diegene wat die hoogste prys op die onderskeie lotte gebie het, kom ook in aanmerking vir ’n artikel 18A-belastingsertifikaat.”

Vir meer inligting oor die AfriForum-traumaeenheid stuur ’n e-pos aan trauma@afriforum.co.za of klik hier.

Soortgelyke plasings