AfriForum en Aramex verleen hulp tydens Boks vir ’n Boervrou-projek

AfriForum en Aramex het derduisende bokse na Kimberley vervoer as deel van die Boks vir ’n Boervrou-projek. Die Vrouelandbouvereniging (VLV) van Wellington het dié projek van stapel gestuur om boervroue in droogtegeteisterde gebiede by te staan.

“Ons het van AfriForum se kant af aangebied om as versamelpunt in Pretoria te dien. Die reaksie en omgee vanaf die publiek is oorweldigend. Ons sou nooit kon droom dat ons soveel bokse sou moes vervoer nie,” sê Henk Maree, woordvoerder vir AfriForum.

“Dit is vir Aramex ’n groot voorreg om by hierdie uiters verdienstelike saak betrokke te wees. Die landbougemeenskap speel ’n belangrike rol in ons ekonomie en ons weet dat elke saadjie wat ons vandag saai mildelike opbrengs in die toekoms gaan lewer. Ons vertrou dat hierdie projek weer ’n bietjie hoop gaan bring in die gebiede wat onder droogte gebuk gaan. Ons lewer met ’n glimlag af!” sê André Cronje, Aramex se hoof van bemarking.

“Dankie aan almal wat so positief gereageer het; ons sou dit nie alleen kon doen nie. Ons is verskriklik dankbaar dat die projek so uitgebrei het. Dit is vir ons ’n riem onder die hart. ’n Mens kan nie glo hoe die mense bokse in Wellington kom aflaai nie. Alles is so mooi toegedraai en versorg, perfek so net voor Kersfees. Dankie vir elkeen wat bygedra het se omgeehart – dit is wat ons land nodig het. Ons moedig mense aan om by soortgelyke projekte betrokke te raak,” sê Karen Barnard van die VLV in Wellington.

Soortgelyke plasings