| |

‘NGV is roekeloos; belastingbetaler gaan boet’

Die bekragting van die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is vandeesweek uit alle oorde gekritiseer en talle organisasies, politieke partye en mediese liggame is sterk gekant teen dié wet. AfriForum en Solidariteit is van die organisasies wat gister aangekondig het dat hulle met regstappe gaan begin om NGV te beveg.

Pres. Cyril Ramaphosa het NGV gister by die Uniegebou onderteken ten spyte van teenkanting uit verskeie oorde en gesê mense moenie hierdie wet vrees nie. Volgens hom gaan NGV die ongelykhede wat daar in die gesondheidsbedryf is, uitwis.

Die regering is deurentyd in die jarelange NGV-proses gewaarsku dat dit nie ’n werkbare model is nie en dat dit nog meer medici landuit gaan dryf. Aan die begin van die jaar was byna 800 dokters werkloos terwyl duisende Suid-Afrikaners daagliks in lang rye by staatshospitale en klinieke moet wag op behandeling. Verskeie staatshospitale is boonop ook in haglike toestande.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beskryf NGV as roekeloos en bestempel die bekragtiging daarvan as populisties en onverantwoordelik. Volgens hom word verwagtinge geskep waaraan daar nie voldoen kan word nie.

“Met hierdie wet wil die regering alle gesondheidsorg in Suid-Afrika sentraliseer. Die NGV is nie bloot ’n befondsingsmodel nie, maar ’n omvattende staatsbeheerde plunderpot wat sál misluk. Die regering wil hiermee ook voorskryf wáár dokters praktiseer, na watter dokter ’n pasiënt mag gaan én watter medisyne vir jou voorgeskryf mag word,” sê Hermann.

Daar is ook nog onsekerheid oor hoe NGV befonds gaan word terwyl talle kenners meen die belastingbetaler gaan boet om “gelyke” gesondheidsorg vir almal daar te stel.

“Die NGV gaan belastingbetalers ongekende skade berokken, om nie eens van die Suid-Afrikaanse ekonomie te praat nie. Daarom móét die NGV ongrondwetlik verklaar word en dit is wat ons deur die howe gaan probeer vermag,” sê Anton van der Bijl adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit.

Volgens hom het Solidariteit se regspan die nodige hofstukke gereed en die regsveldslag teen die NGV het amptelik begin.

AfriForum het gister aangekondig dat die organisasie gereed maak vir ’n klasaksie teen die regering, Ramaphosa, die parlement, asook Joe Phaala, minister van Gesondheid, vir die skade waaronder Suid-Afrikaners gaan ly weens die onbekostigbaarheid daarvan.

AfriForum gaan binnekort ’n dagvaardiging uitreik tesame met ’n tussentydse aansoek vir die tersydestelling van die implementering van die wet, hangende die voltooiing van die klasaksie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die doel van die hofgeding om NGV te stuit en om ook diegene wat verantwoordelik is vir hierdie destruktiewe beleid te dwing om die gevolge van hul ondeurdagte optrede te dra.

AfriForum se direksie het vanoggend ’n resolusie onderteken waarin eerstens bevestig word dat die organisasie ’n regsgeding sal instel teen die regering en tweedens onderneem word dat dié regsgeding voortgesit sal word totdat alle remedies uitgeput is.

“Die feit dat Ramaphosa twee weke voor die verkiesing só ’n groot openbare seremonie gemaak het van die bekragtiging van die wetsontwerp en tydens die geleentheid nie kans gesien het om self medianavrae te behartig nie, laat AfriForum wonder of hy enigsins ’n goeie begrip het van die potensiële impak van NGV. AfriForum is juis so toegewyd tot hierdie stryd teen NGV, want ons het die wetsontwerp deeglik bestudeer en verstaan in diepte die gevare daarvan,” sê Boshoff.

Soortgelyke plasings