|

AfriForum en gemeenskap verwyder 1 623 ton waterslaai uit Vaalrivier

AfriForum het die afgelope naweek met die hulp van verskeie ondernemings, organisasies en gemeenskapslede 1 623 ton waterslaai (Pistia stratiotes) uit die Vaalrivier verwyder. Die Departement van Water en Sanitasie en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing het ná ’n maand nog nie ’n plan aangekondig om dié indringerplante te takel nie.

Ongeveer 50 vrywilligers het dié indringerplante met hul hande verwyder terwyl 15 bote en ander vaartuie die waterslaai na vier verskillende uithaalpunte gestoot het. Vier lorrievragte waterslaai is elke uur weggery.

Dié projek is op 28 Januarie afgeskop toe verskeie organisasies, rekreasieklubs en gemeenskapslede reeds 70 ton waterslaai uit die rivier verwyder het. Hierdie waterslaai groei nou al vir ’n geruime tyd die Vaalrivier toe en hou ’n bedreiging in vir die akwatiese ekostelsel. Dit het plek-plek tot so ’n mate versprei dat bote nie meer deurgang kon kry nie en eiendomme op die oewer van die rivier se waarde word ook negatief beïnvloed.

“Die gemeenskap betaal op die oomblik uit hulle eie sakke om die rivier skoon te maak. Meer as R300 000 is al aan diesel, toerusting, masjinerie en dies meer bestee om waterslaai uit die Vaalrivier te verwyder. Belastinggeld is veronderstel om vir hierdie werk aangewend te word, maar nou val die verantwoordelikheid op die gemeenskap om ’n ramp af te weer,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.

Ongeag die hoeveelheid briewe en gesprekke met die onderskeie departemente is daar steeds geen aanduiding oor wat hulle aan die probleem gaan doen nie. Hierdie is, volgens Grobbelaar, net nóg ’n voorbeeld waar die gemeenskap die regering se werk doen. Die projek het egter reeds ’n wesenlike verskil gemaak.

Waterslaai word uit die Vaalrivier verwyder.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, was dié aksie ’n uitstekende voorbeeld van die sukses wat behaal kan word en die verskil wat mense kan maak as hulle saamwerk.

“Die gemeenskap stel vir ons ’n goeie voorbeeld van wat ons kan behaal as ons saamwerk. As dit nie vir die vinnige optrede en bereidwilligheid van die gemeenskap was nie, sou die rivier al baie erger gelyk het en kon dit maklik ontaard het in iets soortgelyk as aan die hiasinte-krisis in die Hartbeespoortdam.”

Indien jy betrokke wil raak by die skoonmaakaksies, skakel gerus vir Grobbelaar by 066 565 8108 of Laurel Young by 082 883 705.

Donasies om die projek te befonds, word ook verwelkom.

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 623 4989 8398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 261-550

Verwysing: Vaalrivier

Soortgelyke plasings