|

AfriForum en publiek neem sterk standpunt in teen BELA-onderwyswetsontwerp by openbare raadpleegsessies in Gauteng

Verteenwoordigers van AfriForum, asook van ander organisasies en die publiek het sterk standpunt teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) ingeneem tydens die openbare raadplegingsessies hieroor wat van 5 tot 7 Mei 2023 in Gauteng plaasgevind het. Die sessies was ’n voortsetting van die raadplegingproses wat in Februarie vanjaar ’n aanvang geneem het.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is die sessies goed bygewoon en het ’n oorweldigende aantal teenwoordiges daarop gewys dat die konsepwet artikels bevat wat ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig, asook gemeenskappe en ouers se besluitnemingsmagte oor hulle kinders se onderwys inhou. Dit het onder meer te make met die magsentralisasie in die hande van provinsiale onderwyshoofde om ’n finale besluit oor toelatings- en taalbeleide te neem. Hierdie mag berus tans by demokraties verkose ouerbeheerliggame en nie by die staat nie.

In Pretoria, Johannesburg en Brakpan het personeel en lede van onderskeidelik die Roodepoort- en Brakpan-takke van AfriForum hulle kommer uitgespreek oor die bedreiging vir Afrikaanse moedertaalonderrig wat hierdie uitbreiding van die staat se mag sal skep, ten koste van gemeenskappe se reg om self oor hulle kinders en skole se belange te besluit.

Die openbare verhore bied aan lede van die publiek die geleentheid om standpunt teen die wet in te neem en moet dus aangegryp word. Daar was reeds geleentheid vir petisies en skriftelike kommentaar. AfriForum het ook in November 2022 ’n voorlegging in die parlement gedoen. AfriForum beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat alle belanghebbendes hulle so sterk as moontlik teen die konsepwet uitspreek om te voorkom dat dit in die huidige formaat aanvaar word.

AfriForum is van mening dat dit beter sal wees om die konsep te skrap en van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin. “Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink eerder as om verder tyd en koste aan hierdie ideologies gelaaide, ongrondwetlike en verouderde konsepwet te wy. Die huidige samewerkingsmodel van skoolgemeenskappe en die staat moet beskerm word, so ook alle aspekte wat moedertaalonderrig kan bevorder,” het sy bygevoeg.

Die volgende raadplegingsessies sal in Secunda (8 Mei), Jozini (12 Mei), Pietermaritzburg (13 Mei) en Pinetown (14 Mei) plaasvind, waarna die Oos-, Wes- en Noordkaap aan die beurt sal kom.

Soortgelyke plasings