|

Jong mense het nie wette nodig om minder te drink nie, maar voorbeelde

Die voorval by Scenery Park in Oos-Londen waar 21 jongmense in Junie in ’n taverne aan vermoedelik alkoholmisbruik dood is, is tragies en die soveelste wekroep vir ’n samelewing wat sy morele kompas verloor het.

Dis te betwyfel of daar iets gaan kom van president Cyril Ramaphosa se plan om die wettige ouderdom vir die gebruik van drank van 18 tot 21 te verhoog.

Dis ook ’n vraag of dit heeltemal gepas was dat hy ’n rede by die roudiens vir die jongmense gaan lewer het nie. Dalk was sy bedoelings eerlik, maar ek dink gewone landsburgers wonder ook of die president en sy kabinet nie lankal leiding moes begin neem het om die land van algehele ondergang te red nie. En hier praat ’n mens van morele leiding. Die soort waar jy voor loop en ’n voorbeeld stel. Die soort leiding wat ouers ook in ’n huis aan hul kinders moet gee.

’n Mens kan maar net hoop dat die president nie so sonder inbors, integriteit en gewete is dat hierdie massabegrafnis die soort van uitreikaksies is wat ons al hoe meer gaan sien tot voor die ANC-verkiesing in Desember nie. Die EFF het reeds sy bedenkinge oor die begrafnis uitgespreek en meen dis niks anders as “vertoon” deur die regering nie.

Daar is selfs bewerings dat die kiste leeg was en dat die begrafnis nie die wens van die slagoffers se naasbestaandes was nie. Skokkend, as dit waar is.

Maar om terug te keer na die ernstige probleem van drankmisbruik, veral onder jongmense, in die land. Hierdie is nie ’n nuwe probleem nie. Die regering het ’n dekade terug al gedreig om die ouderdomsperk vir drankverbruik na 21 te verhoog.

Dis te betwyfel of ’n nasionale debat oor die kwessie enige vrugte sal afwerp.

In ’n studie wat ’n paar jaar gelede deur Pondering Panda gedoen is, het die helfte van respondente in ’n opname aangevoer dat dit betaamlik is vir mense jonger as 18 jaar om alkohol te drink!

Sowat 43% van mense tussen 15 en 17 jaar het gevoel die wettige ouderdomsperk moet onder 18 jaar wees, vergeleke met 54 persent van mense tussen 18 en 24 jaar en 48% van mense tussen 25 en 34 jaar. Die maatskappy het landwyd 4 657 respondente tussen 15 en 34 jaar op selfone en die internet ondervra.

Regskenners het destyds in reaksie op die beoogde ouderdomsverandering gesê só ’n verandering kan moontlik sekere regte van mense skend, aangesien mense op 18 jaar reeds meerderjarig is, selfs kan stem, selfstandig trou en kontrakte kan sluit.

Suid-Afrika gaan onder enorme maatskaplike probleme gebuk wat dringend aangepak moet word.

Ondanks dit moet egter ook in ag geneem word dat die Wêreldgesondheidsorganisasie in 2016 aangedui het dat Suid-Afrika in die top twintig grootste drinker-lande in die wêreld en derde in Afrika is. Boonop is bevind dat tot ’n kwart van die drinkende bevolking fuifdrinkers is.

Iets moet aan die krisis gedoen word, maar regeringsingryping is nie al wat sal help nie. Suid-Afrika gaan onder enorme maatskaplike probleme gebuk wat dringend aangepak moet word. Die land sit met ’n bevolking wat in armoede en ellende vasgevang is en ’n groot persentasie vergryp hul waarskynlik aan drank om van dié werklikheid te ontsnap. Wat ons nou nodig het, is leiers wat rolmodelle is en wat werkbare planne kan uitrol om die lewensomstandighede van mense te verbeter sodat hulle hoop kan skep en hul gedrag en houdings kan verander.

Soortgelyke plasings