AfriForum en SAPD stuit 300 grondgrypers in Witrivier


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 22 Julie 2018 in samewerking met die Witrivier SAPD gehelp om grondgrypers te verhoed om privaat grond in Witrivier, Mpumalanga te beset.
’n Groep van sowat 300 mense het ’n boer in die Witrivier-gebied se grond onregmatig beset. Die besetters het brande gestig om staanplek vir hul huise te maak. Die buurtwag kon daarin slaag om die brande te blus en die gebied af te kordon om verdere skade en besetting te verhoed.
Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-buurtwag, het die boer na die polisiestasie vergesel om ’n saak van betreding aanhangig te maak. Joe Pelser, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Witrivier, het lede van die plaaslike buurtwagte gekoördineer om in samewerking met die brandweer brande te blus, asook die plaas te beveilig.
Die SAPD en AfriForum se vinnige reaksie en doeltreffende koördinering het daartoe gelei dat die besetters vinnig van die toneel verwyder is. AfriForum wil graag die volgende instansies bedank vir hulle vinnige reaksie: Die polisie-eenheid vir openbare orde,  die SAPD-blitspatrollie, die SAPD se K9-eenheid, die plaaslike brandweerdiens, asook buurtwagte en alle ander veiligheidsinstansies wat betrokke was.

“Grondeienaars word aangeraai om by georganiseerde instellings soos AfriForum aan te sluit ten einde hul eiendomsreg te beskerm. Dit is ook raadsaam vir gemeenskapslede om by plaaslike buurtwagte aan te sluit om hul gemeenskappe te help beveilig,” sê Llewellynn Hemmens, assistentkoördineerder vir die noordstreek.
“Gemeenskappe kan misdade soos grondbesetting teenstaan deur hulself te organiseer en die regte stappe te neem. Ons moet gereed wees om binne die raamwerk van die reg op te tree om sulke misdade te hanteer,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings