AfriForum en Sunfield Home behaal groot oorwinning in Mpumalanga Hooggeregshof

AfriForum kondig met vreugde aan dat ’n reuseoorwinning vandag behaal is in die Mpumalanga Hooggeregshof rakende die subsidiebedrag wat betaal is aan die Sunfield Home Fortuna, ’n tehuis vir fisiek en verstandelik gestremde persone buite Balfour. Die hof het AfriForum se saak teen die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangehoor waarin die burgerregteorganisasie betoog het dat die tehuis se subsidie in ooreenstemming met inflasie verhoog moet word.

Die saak, wat afgeskop het toe die Sunfield-tehuis AfriForum in Augustus 2022 om hulp genader het, het gefokus op die onbillike subsidiebedrag wat in die afgelope 15 jaar nooit verhoog is nie. ’n Kansellasie van die subsidie, wat moontlik tot die hervestiging van al die tehuis se kwesbare inwoners kon lei, het die tehuis in die gesig gestaar. 

AfriForum het in 2022 suksesvol ’n interdik bekom wat die kansellasie van die kontrak verhoed het en verseker het dat die betaling van die bestaande toelae steeds, hangende die afhandeling van die hoofsaak, moes voortgaan. Die hof het vandag verklaar dat Mpumalanga se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in gebreke gebly het om genoegsaam te begroot deurdat daar oor die afgelope 15 jaar nie voorsiening gemaak is vir inflasieverhogings van staatsgesubsidieerde inwoners se toelae nie. Die uitspraak beveel onder meer dat die 2024/2025-subsidie op ’n maandelikse bedrag, soos bepaal deur die hof, betaal moet word en dat die jaarlikse verhoging op grond van verbruikersprysindeks (VPI) begroot en betaal moet word.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, het die departement die nodige fondse om voldoende finansiële ondersteuning aan Sunfield Home Fortuna te verskaf. “Dit is skokkend om die ANC-beheerde owerhede se onverskilligheid oor die welstand van die kwesbaarste mense in die samelewing te aanskou. Dit is gevegte soos dié wat die belangrikheid benadruk van organisasies wat, soos AfriForum, opstaan vir dié wat die regering onbillik hanteer,” sê Boshoff. 

AfriForum sal voortgaan om die situasie te monitor om te verseker dat die staat se nalatigheid reggestel word. AfriForum sal ook waaksaam bly om owerhede aanspreeklik te hou om hul verantwoordelikhede teenoor die kwesbaarste lede van die samelewing na te kom.

Soortgelyke plasings