AfriForum gaan appelleer ná Dundee-boer nie borgtog kry

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag aangekondig dat hy appèl gaan aanteken teen die Glencoe Landdroshof se besluit om nie borgtog aan Garth Simpson, ’n boer van Dundee, toe te staan nie. Simpson word van moord aangekla ná ’n voorval op sy plaas enkele weke gelede.

AfriForum het vroeër aangekondig dat hy Simpson met regshulp gaan bystaan omdat dit reeds blyk of daar politieke inmengery in dié saak is.

AfriForum het die strafregkenner dr. Llewelyn Curlewis aangestel om die saak te ondersoek en aanbevelings aan AfriForum te maak. Volgens Curlewis is Simpson se weergawe vanuit suiwer regsbeginsels ’n volwaardige verweer teen die klagte(s).

“Ons glo meneer Simpson het ’n sterk verweer maar dit wil voorkom of hy reeds deur die publiek skuldig bevind is, daarom is dit kommerwekkend dat hy borgtog geweier is. Die feit dat opportunistiese politici reeds oproerigheid rondom die saak begin veroorsaak het, is ook uiters teleurstellend,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

Soortgelyke plasings