|

Christiana-tak vul slaggate op as deel van #MyWoonbuurt-kompetisie

AfriForum se Christiana-tak het vanaf 3 tot 14 April ’n aksie van stapel gestuur om slaggate op te vul as deel van die #MyWoonbuurt-kompetisie wat in Maart gehou is om gemeenskappe te help om hul woonbuurte op te knap. 

Gedurende die aksie het vrywilligers Pretorius-, Robyn- en Presidentstraat opgradeer en meer as 50 slaggate opgevul waartydens daar meer as 300 sakkies teer gebruik is. AfriForum se Christiana- en Jeug-tak het die projek saam met die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit en verskeie ander rolspelers aangepak. Lede kon stem vir die probleme wat dadelik aandag verlang – slaggate het die meeste stemme ontvang en daarom het die tak besluit om hierdie projek te begin.

“Die #MyWoonbuurt-kompetisie is geloods met die doel om gemeenskappe te help om weer hul woonbuurte op te knap,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland. “Die slaggate wat ons opgevul het, is dié wat die meeste stemme ontvang het.”

“Ons wil graag baie dankie sê vir die skenkings wat ons ontvang het om hierdie projek moontlik te maak. Ons bedank ook die plaaslike munisipaliteit, Bojo Carriers en H2connect vir hul hulp met die projek. Ons waardering gaan ook spesifiek aan die Jeug-tak van Christiana wat hard gewerk het om die projek ’n sukses te maak,” sê Bianca van der Westhuizen, voorsitter van AfriForum se Christiana-tak.

AfriForum beplan om die #MyWoonbuurt-kompetisie weer later in die jaar te hou en moedig inwoners aan om vir die probleme te stem waarmee hulle in hul woonbuurte hulp nodig het.

“Die projek is begin om mense te help om probleme in hulle woonbuurte te takel. Ons wil graag aksies aanpak wat direk in ons woonbuurte ’n verskil gaan maak en vra dat die inwoners ons sal ondersteun en sal deelneem deur vir die probleem te stem wat hulle graag in hul woonbuurte sal wil uitsorteer,” sluit Nel af.

Die gemeenskap sal in kennis gestel word van die volgende kompetisie op die tak se Facebook-blad en WhatsApp-groep.

Soortgelyke plasings