|

Wes-Rand-buurtwagte behaal verskeie suksesse

AfriForum se buurtwagte in Randfontein, Roodepoort en Krugersdorp het gedurende die afgelope langnaweek verskeie arrestasies uitgevoer in samewerking met lede van die Wes-Rand SAPD, K9-eenheid en sekuriteitsmaatskappye.

Dít volg nadat die SAPD die buurtwagte op 8 Augustus 2020 om hulp genader het met ’n lokval wat beplan is om ’n vermeende dwelmhandelaar vas te trek. Verskeie dwelms is by die verdagte gevind en daar is ook beslag gelê op die verdagte se selfoon en voertuig.

Die buurtwagte het op dieselfde dag nóg drie verdagtes in hegtenis geneem weens kabeldiefstal. Die SAPD was kort daarna op die toneel en het beslag gelê op die koperkabels waarvan die waarde nog nie bepaal is nie.

Die Wes-Rand-buurtwagte is kort daarna weer ontplooi om die SAPD in Magaliesburg en Roodepoort te help om twee vermiste persone te soek. Die een persoon is Maandagoggend opgespoor nadat die ligging van die persoon bepaal is deur verskeie leidrade en informasie op te volg. Die ander persoon is vermoedelik betrokke by die gebruik en handel van dwelms en hoewel die buurtwagte in samewerking met die SAPD verskeie dwelmhuise deursoek het, is die persoon nog nie opgespoor nie.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die noordstreek, is hierdie aksies doelgerig beplan en uitgevoer in samewerking met die plaaslike polisie.

“Hierdie suksesse is ’n bewys dat verskillende rolspelers wel saam kan werk om ’n doelwit te bereik. Dit verg egter deursettingsvermoë en goeie leierskap en ek wil die buurtwagte bedank vir hul harde werk en goeie samewerking met die SAPD en ander veiligheidsrolspelers,” sê Hemmens.

Soortgelyke plasings