|

AfriForum gee sy regspan opdrag om weer teen Eskom op te tree

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Eskom kan moontlik weer in die hof koppe stamp oor die bykomende beurtkrag wat vir Zeerust beplan word as gevolg van die Ramotshere Moiloa Plaaslike Munisipaliteit se agterstallige rekening. Dié munisipaliteit se skuld beloop sowat R98 miljoen.

AfriForum het op 16 November 2022 ’n oorwinning in die Pretoriase Hooggeregshof behaal nadat Eskom van 30 Julie 2020 tot 6 Augustus 2020 bykomende beurtkrag in Zeerust toegepas het weens die munisipaliteit se agterstallige rekening. Die bykomende onderbrekings het die gebied vir ses addisionele ure per dag sonder krag gelaat. Die bevel wat deur AfriForum verkry is, het die 2020 besluit van Eskom om die kragvoorsiening na die munisipaliteit te onderbreek, ter syde gestel.

“In die meeste gevalle betaal verbruikers hul elektrisiteitsrekening getrou aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om dit aan Eskom oor te betaal. AfriForum se regspan het vandag ’n dringende skrywe aan Eskom gerig waarin hulle gemaan word om nie voort te gaan met die beplande onderbreking nie. Indien Eskom wel voortgaan met hierdie wanpraktyk, sal ons die hof nader om die besluit weereens ter syde te stel. Geskille soos hierdie wat tussen staatsorgane plaasvind moet nie ’n negatiewe impak op die algemene publiek hê nie,” sê Petrus Coetzee, raadgewer vir plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Te danke aan AfriForum se Zeerust-tak, het ons die inligting vinnig ontvang en kon ons regspan onmiddellik teen Eskom optree om te probeer verhoed dat hierdie wanpraktyk plaasvind. Die hofbevel sê duidelik dat Eskom se vorige optrede verkeerd was en ons sal aanhou om die situasie te monitor om te voorkom dat die gemeenskap se regte geskend word,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Soortgelyke plasings