|

AfriForum gereed vir regsaksie as BELA-wetgewing aanvaar word; moniteer parlementêre proses

AfriForum beklemtoon dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) onderwys in die land ingrypend sal skaad indien dit in die huidige formaat aanvaar word en is daarom gereed om dit met litigasie teen te staan. Dié kommentaar volg in reaksie op die huidige omstrede bespreking van die wetsontwerp deur die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Basiese Onderrig.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem dat dit kommerwekkend is dat lede van die komitee bereid was om die wetsontwerp te hanteer sonder dat alle openbare insette daaroor deurgewerk is. “Dit skep ook vrae oor hoe ernstig die publiek se insette opgeneem word en hoe deeglik die res van die voorleggings bestudeer is,” sê sy.

“Afgesien van die publiek se menings, behoort die komitee daarop te let dat verskeie bepalings in die voorgestelde wet bots met uitsprake in die Grondwet, asook uitsprake van die Konstitusionele Hof. Deur die wetsontwerp deur die parlement te probeer stoomroller voor die nasionale verkiesing van 2024, word die deur oopgelaat vir vele regsaksies waarop die belanghebbers – insluitend AfriForum – reeds deeglik voorberei is,” voeg Bailey by.

Bailey verduidelik dat teenstand teen die wetgewing noodsaaklik is, omdat die wetgewing aspekte soos die reg van toegang tot moedertaalonderrig, die privaatheid van ouerbeheerliggaamlede, beperkte klasgroottes ter wille van gehalte onderrig en die aktiewe betrokkenheid van skoolgemeenskappe deur middel van demokraties verkose ouerbeheerliggame, sal vernietig.

“Onderwys is reeds in ’n bedenklike toestand in die land en ons kan nie toelaat dat wetgewing aanvaar word wat die situasie nog verder gaan vererger nie,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings