AfriForum waarsku teen hoë brandgevaartoestande; deel veiligheidswenke vir veldbrande

AfriForum waarsku teen ’n hoë brandgevaar in die noordelike gedeelte van die land  wat nou in hul droë seisoen is. Provinsies wat geraak word, is Noord-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal. Dit is na aanleiding van die hoë temperature, lae humiditeit en sterk winde wat vir die komende weke voorspel word tot en met die eerste goeie reënval. As gevolg van die hoë brandgevaar, is wegholveldbrande ’n algemene verskynsel wat verliese aan duisende hektaar weiding en ekonomiese skade vir boere tot gevolg het.

AfriForum het ’n opsommende gids saamgestel oor hoe om gereed te wees wanneer jou onmiddellike omgewing deur ’n veldbrand geteister word. Dit sluit onder meer in hoe om voorsorg te tref sowel as jou oorlewing tydens en ná ’n veldbrand.

“Aangesien die brandgevaar hoog is en die gras droog is, versprei brande baie vinnig en is die veldbrand se hitte baie warm. Die voorpunt van ’n vuur se vooruitgang kan 4 km/h oorskry en die vlam lengtes kan tussen 5 tot 15 meter hoog wees. Dít kan verlies aan eiendom veroorsaak en selfs tot die dood van mense en diere lei, aangesien veldbrande gevaarlik en onvoorspelbaar is. Daar moet dus meer gedoen word om elke Suid-Afrikaner van die gevaar van veldbrande bewus te maak,”  sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

Volgens AfriForum is daar veral groot uitdagings met veldbrande in landelike gemeenskappe. ’n Nuwe tendens wat kop uitsteek, is dié van jagters wat ’n veldbrand veroorsaak om diere in ’n sekere rigting te lei. Honde word dan losgelaat om hierdie diere in die spesifieke rigting aan te jaag, wat dit gevolglik makliker maak vir die jagter om die dier te jag. ’n Ander oorsaak van veldbrande sluit ook in asgate waarin vullis gebrand word, terwyl ander oorsake selfs kwaadwillig kan wees.

  • Klik hier vir die volledige gids.

Soortgelyke plasings