|

AFRIFORUM JEUG SLAAG REEDS DAARIN OM 51 NSFAS-STUDENTE TE LAAT REGISTREER

AfriForum Jeug se regspan is gister (31 Maart 2021) in kennis gestel dat 51 van die 132 studente wat deur die organisasie  verteenwoordig word, toegelaat is om vir 2021 by verskeie universiteite te registreer terwyl hul NSFAS-saak nog hangend is. AfriForum staan die studente by in die saak rakende hul finansiering van NSFAS wat onregmatig opgeskort is. AfriForum Jeug se regspan het Maandag briewe aan verskeie universiteite gestuur om te vra dat hulle die studente wat deel vorm van die saak, toelaat om te registreer totdat die saak afgehandel word.

Terugvoer van die Nelson Mandela Universiteit, die Universiteit van die Wes-Kaap, Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria is ontvang om te bevestig dat hulle die studente sal toelaat om te registreer. AfriForum Jeug wag nog vir terugvoer van 12 ander tersiêre instellings om te hoor of hulle ook die studente sal toelaat om te registreer.

“Ons is dankbaar dat die universiteite ons lede tegemoetkom en hierdie studente die kans gee om met hulle studies aan te gaan. Die afgelope paar maande se onsekerheid het baie studente moedeloos gelaat en ek glo hulle sal nou weer asem kan haal,” sê Chantelle du Preez, nasionale koördineerder van kampusstrukture by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug sal aanhou optree namens studente wat as pionne in die politieke spel op kampusse misbruik word. AfriForum Jeug se saak teen NSFAS sal 14 April 2021 in die Kaapse Hooggeregshof voorkom. Verdere navrae van studente in verband met NSFAS kan aan nsfas@afriforum.co.za gestuur word.

Raak vandag nog by jou naaste tersiêre of dorpstak se jeugstruktuur betrokke en help om ’n positiewe verskil te maak. Stuur ’n e-pos na jeug@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings