AfriForum gereed vir regstryd om godsdiens in skole te hou


AfriForum se regspan is gereed om Maandag dié organisasie se standpunt as vriend van die hof te stel in ’n saak tussen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie.
Dié saak volg nadat ses skole, naamlik Laerskool Randhart, Laerskool Baanbreker, Laerskool Garsfontein, Hoërskool Linden, Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium aan die einde van 2014 deur die laasgenoemde organisasie weens die skole se godsdienstige etos voor die hof gedaag is.
Anti-christelike fundamentaliste het al in Oktober 2009 gedreig om godsdiens uit skole te probeer weer. Toe reeds het AfriForum sterk standpunt ingeneem en gesê dat skole teen regsaksies van dié aard ondersteun sal word. Fedsas verteenwoordig nou die ses skole in die saak, met AfriForum se steun vir die regskoste.
In 2015 het AfriForum ’n veldtog vir die behoud van godsdiens in skole ter ondersteuning en bewusmaking vir die hofsaak van stapel gestuur. As deel daarvan het ds. Henk Stavast en Derick Francis sowat 6 000 kilometer per fiets deur die land afgelê om fondse vir die saak in te samel, maar ook om mense in te lig oor die negatiewe gevolge wanneer skole nie ’n godsdienstige etos beoefen nie. Die bekende akteur, Hykie Berg, het in samewerking met AfriForum en Laerskool Jacobsdal ook ’n staptoer ter bewusmaking in die Drakensberge onderneem. Die ondersteuning vir hierdie inisiatiewe het net weer bewys hoe belangrik godsdiens in skole vir leerlinge en vir ouers is.

Soortgelyke plasings