|

AfriForum: Gordhan erken gebrek aan mededinging het kostes verhoog

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vandag sy plan bekend gestel om Eskom reg te ruk. Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat die onderverdeling van dié monopolie – in klusters binne Eskom wat met mekaar meeding – ’n stap in die regte rigting is, maar dat dié entiteite wat krag kan opwek, vergroot behoort te word sodat rolspelers uit die privaat sektor ook kan deelneem.

Gordhan het genoem dat die koste van krag oor die laaste tien jaar met meer as 500% gestyg het. Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die ekonomie kan nie aanhou om hierdie verhoogde kostes te betaal nie. “Meer spelers kan Eskom dwing om sy sake doeltreffender te bestuur, en indien Eskom dit nie regkry nie, sal die privaat sektor reg staan om dié leemtes te kan vul.

Die koste van steenkoolpryse moet ook ernstig onder die loep geneem word gesien in die lig dat sewe entiteite 100% wins op die lewering van steenkool aan Eskom maak. “Die minister sê daar sal met die steenkoolmyne onderhandel word oor die koste van steenkool omdat dit ’n wesenlike kostekomponent van die tarief uitmaak. Dit is uiters belangrik dat steenkool nie net goedkoper aangekoop moet word nie, maar ook dat die gehalte van steenkool verbeter.”

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die plan stel voor dat ’n betalingskultuur gevestig behoort te word waarin mense wat nie hul rekeninge betaal nie afgesny word. “Die beste plek om hierdie kultuur af te dwing, is by die munisipaliteite en ander staatsdepartemente wat nie hul eie rekeninge vereffen nie. Munisipaliteite ontvang geld van die nasionale tesourie om vir behoeftiges se dienste te betaal, maar by die meeste munisipaliteite wat agterstallig is, word nie eens hierdie nasionale fondse aan Eskom oorbetaal nie.”

Volgens Brink is hierdie slegs die begin van die herstrukturering en baie besonderhede oor die plan moet nog bekend gemaak word. “Ons sien uit om verder met die departement te skakel om meer besonderhede te kry en insette te kan lewer.”

Soortgelyke plasings