|

AfriForum besoek, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, Hoërskool Fochville met die #EkIsWondermeisie-veldtog

Die burgerregteorganisasie AfriForum in samewerking met Solidariteit Helpende Hand het op 11 Mei by Hoërskool Fochville besoek afgelê met die #EkIsWondermeisie-veldtog. Dit is waar AfriForum se teenboelieveldtog en Helpende Hand se FroueVonds en #HelpHetta-projek saamsmelt om ’n verskil te maak in behoeftige meisies se lewens.

AfriForum se teenboelieveldtog fokus op die bemagtiging van jongmense en om hulle toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag hok te slaan. Soms vind innerlike boeliegedrag plaas, veral onder jong meisies.

Drieduisend skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir vyf dae tot stilstand, omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie. Die #HelpHetta-projek versprei sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte aan hierdie meisies op ’n kwartaallikse basis. Hierdie Hetta-meisies ontvang ook opleiding om verskillende kwessies te hanteer, soos verwerping, groepsdruk, selfverdediging en mishandeling. Verder word hulle emosioneel en geestelik ondersteun deur gereelde WhatsApp-boodskappe. Die inhoud word deur Helpende Hand se span maatskaplike werkers saamgestel. Besoek www.helphetta.co.za vir meer inligting.

“In ’n gebroke en mededingende wêreld is dit juis nodig om meisies te bemagtig om uit te staan in hierdie wêreld deur hulle aan te spoor om net hulself te wees. Met die #EkIsWondermeisie-veldtog word baie elemente van AfriForum se teenboelieveldtog gebruik, waar daar gesels word oor die belangrikheid van selfwaarde en dat ons ons waarde nie in hierdie wêreld moet soek nie, maar dat ons klaar waardig is in God se oë. Meisies is geneig om hulself af te breek deur hulself met ander te vergelyk en die gebruik van sosiale media – dit knak baie keer hulle selfvertroue. Dit is belangrik dat meisies ook op so manier bemagtig word dat hulle moet besef dat hulle liggame ’n tempel van Jesus Christus is en dat hulle hul eie liggame moet respekteer en bewaar en dat hulle liggame ook deur ander gerespekteer moet word. #EkIsWondermeisie leer meisies om ook hulle volle wapenrusting aan te trek,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Die inisiatief is by Hoërskool Fochville uitgerol as gevolg van die verskriklike oplewing van jongmense in Fochville waaroor ek vreeslik opgewonde is. Hulle is sterk jongmense wat goeie waardes najaag om ook ’n verskil te maak in hulle gemeenskap. Onlangs was daar ook besluit om ’n Helpende Hand tak in Fochville te stig en ’n gemeenskapsvergadering was gehou, waar die graad 9-leerder en Mej. Fochie junior, Lizemarie Combrink ook was. Ons het vertel van ons HelpHetta-projek. Na afloop van die vergadering het Lizemarie my kom sien en gesê dat sy as Mej. Fochie junior ’n gemeenskapsprojek moet loods en dat sy graag wil help om sanitêreware vir behoeftige meisies in te samel. Dit was Lizemarie se droom dat, sou sy die titel van Mej. Fochie kry, sy iets terug in die gemeenskap sal ploeg en dat dit ’n volhoubare projek sal word,” sê Suzette Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke.

“Ons het gesels oor hoe jy nie mag toelaat dat enige iemand jou waarde as meisie en as mens kan bepaal nie. God het gedroom oor jou nog voordat jou ouers van jou bestaan geweet het. Slegs God, wie jou Skepper is, kan bepaal wat jy werd is. Enige meisie tussen die ouderdom van 10-18 jaar kan ons Help Hetta-WhatsApp-lyn gebruik deur ’n boodskap te stuur na 076 530 9066 waar ons twee maal per week lekker onderwerpe vir jong meisies aanraak en hulle bemoedig met goeie inligting. Hierdie lyn is ook heeltemal anoniem,” voeg Yolandi Singleton, maatskaplikewerker en hoof van Ons Sentrum by Solidariteit Helpende Hand by.

Zander Botha, Helpende Hand Studietrust se fondsbestuurder het weer die seuns bemagtig deur identiteit in sy praatjie aan te raak:

  • ’n ware man weet hoe om sy knieë voor God te buig en Hom te aanbid.
  • ’n ware man streef om nederig van hart te wees en sag teenoor sy geliefdes.
  • ’n ware man weet hoe om verantwoordelikheid te neem oor dit waarmee God hom toevertrou.
  • ’n ware man weet hoe om as leier op te tree en ook in Jesus se spore te volg.
  • ’n ware man weet hoe om dit wat hy het te koester.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings