|

AfriForum-lid skenk haar lappoppe vir slagoffers van geweldsmisdaad

Tannie Agnes Meyer (94) van Pretoria se hande staan op haar rype ouderdom vir niks verkeerd nie.

As een van AfriForum se oudste lede het sy vandag meer as twintig lappoppe, wat sy met groot liefde gemaak het, aan AfriForum geskenk wat die organisasie se traumaeenheid gaan gebruik in die ondersteuning van slagoffers van plaasaanvalle en ander geweldsmisdade.

As een van AfriForum se oudste lede het sy vandag meer as twintig lappoppe, wat sy met groot liefde gemaak het, aan AfriForum geskenk.

Tannie Agnes doen feitlik haar hele lewe lank naaldwerk. Elke lappop is spesiaal met die mooiste rokkie, skoene en unieke haarstyl. Die ogies is verskillende kleure en word met akrielverf geverf.

Volgens Tannie Agnes hou sy haar met dié kunswerke besig “omdat dit vir my lekker is om ’n kind gelukkig te sien. Ek geniet naaldwerk baie. As ’n mens dit kan doen, is dit maklik.

“Ek maak ook eerder lappoppe omdat dit iets is wat mens darem kan sien. As jy kosmaak of ’n koek bak, is dit te gou verby,” lag sy.

Tannie Agnes in haar spesiale werkkamer

Sy het nog al die jare ’n spesiale werkkamer in haar huis in Waterkloof waar sy duidelik presies weet waar elke tolletjie gare en lappie moet kom.

Die maak van die poppe neem nogal tyd. Hulle moet heel eerste uitgesny word en daarom doen sy sommer drie of vier op ’n slag. Daarna word sorgvuldig beplan hoe die hare, oë en rokkie en skoentjies gaan lyk.

Tannie Agnes het in Boksburg aan die Oos-Rand grootgeword, aan die destydse Onderwyskollege in Pretoria studeer en daarna by die Hoërskool Brandwag in Benoni skoolgehou. “My gunsteling vak was gimnastiek. Dit was baie lekker met geen nasienwerk nie,” spot sy.

Die maak van die poppe neem nogal tyd.

Tannie Agnes het tot op 89 ook nog gholf en tennis gespeel.

Volgens haar dogter Linda Lochner het haar ma van kleins af hulle klere gemaak. Ook haar, haar suster en skoonsuster se trourokke. En sy maak ook nog rokkies vir haar kleinkinders. Sy het ook jare gelede ingegryp en die skooluniforms van Laerskool Anton van Wouw ontwerp wat leerders vandag nog dra.

Tannie Agnes se dogter Linda Lochner

Tannie Agnes skryf haar goeie gesondheid daaraan toe dat sy nog altyd gesond geleef en nooit gedrink of gerook het nie. Sy was ook nog altyd iemand wat die positiewe en ligkant in enigiets kon raaksien.

Izel Kruger, kantoor- en projekbestuurder by die AfriForum Traumaeenheid, sê die lappoppe sal voor Kersfees ook aan dogtertjies in ’n kinderhuis geskenk word wat slagoffers van geweldsmisdaad was. “Ons is ontsettend dankbaar vir hierdie gebaar en skenking van Tannie Agnes af. Dit gaan ’n groot verskil maak in die werk wat ons doen en ’n bietjie vertroosting vir hierdie slagoffertjies bring.”

Daar word sorgvuldig beplan hoe die hare, oë en rokkie en skoentjies gaan lyk.

Soortgelyke plasings