|

AfriForum help gesin om TMPD-rampokkers aan te kla

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het gister vir Yolandi en Neels Groenewald gehelp met die lê van strafregtelike klagtes van afpersing en korrupsie teen lede van die Tshwane-metropolisie (TMPD). Dié klagtes is by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion gelê nadat die Groenewald-egpaar en hul minderjarige seun (14) op die Maandagaand van 22 Augustus na bewering deur ongeveer sewe TMPD-beamptes afgepers is om R12 000 aan hulle te betaal.

Die Groenewalds was laat in die nag op pad terug van ’n skoolfunksie in Pretoria toe hulle op die R21-afrit deur die groep beamptes afgetrek is. Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die beamptes gedreig dat hulle Neels (die bestuurder van die voertuig) sou toesluit en hom eers die Woensdag weer sou vrylaat. “Die beamptes het hierdie boodskap ook aan sy vrou en kind oorgedra wat in die pikdonker nag in die kar gesit en wag het. Dit was uiters traumaties vir hierdie familie om te hoor dat die ‘bende van beamptes’, waarvan geeneen sigbare naamplaatjies gedra het nie, Neels sou toesluit en dreig om hom vir twee dae aan te hou. Die vroulike beampte het ook blykbaar gesê dat sy Neels se gesin as ‘’n guns’ by hul huis sou aflaai nadat hulle hom gearresteer het.”

Dit is egter nie waar die traumatiese gebeure gestop het nie. Die bende van beamptes het toe na bewering gesê dat as Neels ’n afkoopboete (“spot fine”) van R12 000 betaal, hulle hom sou laat gaan. Die vroulike beampte het na bewering geëis dat Neels onmiddellik R3 000 elektronies aan ’n sekere nommer oorbetaal om te verseker dat die ondersoek teen hom ‘verdwyn’. Daarna moes Neels na twee verskillende OTM’s ry om die oorblywende R9 000 te trek en aan die beamptes te oorhandig. Toe eers het die bende sy lisensie vir hom teruggegee en kon hy en sy gesin huis toe gaan.

“Mense is te bang om saans te ry omdat diegene wat veronderstel is om ons veiligheid op die paaie te verseker hulself soos rampokkers gedra en deesdae die grootste gevaar vir motoriste inhou. Ek vermoed daar is baie min mense wat deesdae sal sê dat hulle gerus voel as hulle metropolisiebeamptes langs die pad sien en dit wek dikwels werklike vrees by motoriste as hulle afgetrek word – selfs al het hulle niks verkeerd gedoen nie. Die enigste manier hoe ons hierdie gedrag gaan stopsit, is deur mense soos die Groenewalds wat teen hierdie blatante afpersingstaktieke opstaan,” sê Venter.

“Ons het hierdie klagtes gelê, want ons het gevoel dit kan nie meer so aangaan nie. Die metropolisie het daardie aand ’n skrikbewind teen ons gevoer. Dit was traumaties vir ons almal, veral my seun. Dit is nie hoe polisiebeamptes moet optree nie en dit is nie hoe Suid-Afrikaanse burgers hanteer moet word nie,” sê Yolandi.

Soortgelyke plasings