|

AfriForum help om grondbesetting in Nelspruit af te weer

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Nelspruit-buurtwag het in samewerking met ACS Security, Hi Tech Security en MBM Protection Services ’n grondbesetting op die plaas Cromdale buite Nelspruit afgeweer.

Grondgrypers het op 4 Julie 2020 een van die boere se grond beset. Nadat ’n vergadering op 12 Julie 2020 met die grondgrypers gehou is, het hulle besluit om nie met die besetting voort te gaan nie.

Dit volg nadat ’n groep van ongeveer twintig mense op 4 en 6 Julie begin het om die grond te beset en erwe uit te meet. ACS Security het AfriForum om hulp genader, waarna AfriForum die grondeienaars gekontak het om so gou moontlik alle toepaslike inligting in te win. Beplanning is saam met ACS Security, Hi Tech Security, MBM Protection Services en die grondeienaars gedoen sodat die situasie veilig bestuur kon word.

Die gebied is deurlopend gemoniteer sodat daar rekord van die grondgrypers se bewegings gehou kon word. Die grondeienaars se veiligheid was ook geprioritiseer omdat een eienaar se huis ongeveer 100 meter van die besette gedeelte geleë is. ’n Hommeltuig is ook gebruik om inligting in te win. Die eienaars se regspanne kon die nodige hofbevele verkry om die besetting stop te sit. Daarna het hulle met die Nelspruit-SAPD geskakel, wat die besetters toegespreek het.

“Die hommeltuig maak dit vir ons moontlik om inligting veilig in te win sonder om ons lede se lewens en voertuie in gevaar te stel,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

“Dié operasie is weer eens ’n bewys dat sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte moet saamwerk om grondbesettings teen te staan. As ons saamwerk, is ons sterker,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die verskil: SMS jou naam na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings