|

Vanderbijlpark-tak herorganiseer bestuur tydens jaarvergadering

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Vanderbijlpark-tak het op 29 Maart hul jaarvergadering gehou waartydens die tak aan die gemeenskap terugvoer gegee het oor verlede jaar se projekte en die bestuur geherorganiseer het.

Gemeenskapslede kon vooraf mense nomineer wat die tak op die bestuur gaan verteenwoordig. Verskeie plaaslikeregeringsake van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is tydens die vergadering bespreek sowel as projekte wat dié tak vanjaar gaan aanpak. Sertifikate van erkenning is deur verlede jaar se bestuur aan staatmakers uitgedeel wat die tak gedurende 2022 ondersteun het.

Die nuwe takbestuur bestaan uit Jan Labuschagne (voorsitter), Rudi de Beer (ondervoorsitter), Hendrik Small (tesourier), Willem van Onselen (gemeenskapsveiligheid), Gert Jordaan (plaaslikeregering- en omgewingsake), Jacques Labuschagne (jeug) en Piet Roos (projekte).

“Ons bedank graag die gemeenskap vir hul insette tydens die herorganisasie, asook die bestuurslede vir hul bereidwilligheid om op die takbestuur te dien. Die Vanderbijlpark-tak bestaan reeds tien jaar en is positief oor dít wat vanjaar voorlê. Die nuutverkose bestuur is almal sterk gemeenskapsleiers en sal op volle krag werk,” sê Marie Steinberg, AfriForum se hoof vir die noordstreek.

“Die Vanderbijlpark-tak is ’n ontsettende sterk tak en is ywerig om vol stoom voort te gaan met ons volhoubare projekte en om die buurtwag verder uit te brei om sodoende die gemeenskap te beveilig. Dié tak het reeds ’n voltydse tuinspan wat weekliks die omgewing skoonmaak en ons beplan verder om ’n minimum van vyf  sigbaarhiedspatrollies ’n maand te hou. Ons hommeltuig maak ook reeds ’n groot verskil in die inwoners se veiligheid en ons gaan beslis  hierop voortbou,” sê Jan Labuschagne, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-tak.

Soortgelyke plasings