|

AFRIFORUM JEUG BESKOU NSFAS SE BELOFTE VIR BEFONDSING IN 2021 AS ONREALISTIES

AfriForum Jeug beskou die onlangse aankondiging deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) dat hulle vanjaar alle studente wat bewyse kan lewer dat hulle vir befondsing kwalifiseer met finansiële hulp sal bystaan, as ’n onrealistiese onderneming.  

AfriForum Jeug is tans in ’n hofgeding met NSFAS gewikkel nadat die hulpskema verlede jaar befondsing aan sowat 5 000 goedgekeurde studente onttrek het. Die jeugorganisasie verteenwoordig 130 studente wat bewyse kon lewer dat hulle onregmatig van hul befondsing ontneem is. Dié saak word op 14 April 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.   

Studente wat in 2020 sonder finansiering gelaat is, kan steeds nie hulle skuld vereffen of voortgaan met hul studies vir 2021 nie. Hulle sukkel voorts ook om uitbetaalde geld aan die hulpskema terug te betaal, wat weer tot gevolg het dat die skema nie hierdie fondse kan aanwend om nuwe aansoekers finansieel te help nie.  

“NSFAS kan steeds nie antwoorde gee oor waarom studente se befondsing in 2020 onttrek is nie, maar maak reeds beloftes in 2021 dat hulle vanjaar wel met finansiering sal kan help,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug. “Daar is geen waarborge dat NSFAS nie weer hierdie jaar, soos verlede jaar, gaan teruggaan op hulle belofte aan studente nie. Dus is NSFAS nie in die posisie om onrealistiese verwagtinge by studente te skep nie.” 

Indien jy meer wil weet of by AfriForum Jeug se tersiêre of dorpstrukture betrokke wil raak, stuur ’n e-pos na jeug@afriforum.co.za met jou kampus, dorp of stad se naam as onderwerp. 

Soortgelyke plasings