|

Groentetuin-projek: Bethal-tak oes nóg 200kg groente

Die groentetuin-projek, wat in 2020 deur die AfriForum-tak in Bethal van stapel gestuur is om te help met werkskepping in dié gemeenskap, bars sedertdien byna uit sy nate. Hierdie jaar het die tak reeds byna 2 ton groente uit hierdie tuin geoes – die mees onlangse oes van 200kg spinasie en wortels ingesluit.

’n Deel van hierdie oes is aan die Silwerjare Tehuis vir bejaardes geskenk en die ander deel aan die Bethal Sopkombuis. Hierdie projek lewer reeds sedert 2021 volhoubaar groente aan verskeie organisasies in en rondom Bethal, waaronder die Silwerjare Tehuis vir bejaardes, die Bethal Sopkombuis en Residentia Palm-Oord-aftreeoord.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het die groentetuin by kere al soveel groente gelewer dat dit selfs buite die Bethal-gemeenskap aan organisasies en kinderhuise geskenk kon word.

Die groentetuin lewer nie net wortels en spinasie nie, maar ook binnekort tamaties, pampoen en aartappels. Bekker meen dat dit belangrik is om groente te plant wat iemand se maag gaan vol maak, daarom is daar nie ’n krui of aspersie in hierdie tuin te sien nie.

Wanneer dié tak besluit watter groente om te plant oorweeg hulle die seisoen asook hoe lank dit neem vir die spesifieke groente om te groei. Volhoubaarheid is die sleutelwoord en daarom word daar gepoog om groente te plant wat meerjarig – met ander woorde, wat meer as een keer geoes kan word. Die projek word ook ondersteun deur inwoners en boere van die Bethal-omgewing wat gereeld donasies in die vorm van kunsmis of ander items maak.

“Ons is dankbaar dat ons met dié projek ’n verskil kan maak in die lewens van die mense wie dit die nodigste het. Hierdie projek is werklik besig om ’n lewensaar vir die organisasies in die omgewing te word. Projekte soos hierdie wat werk skep en op ’n volhoubare wyse voedsel produseer is noodsaaklik vir die vestiging van selfstandige gemeenskappe,” sluit Bekker af. 

Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit by AfriForum se Bethal-tak.

Soortgelyke plasings