|

Gemeenskappe moet drakoniese NGV-wetsontwerp teenstaan by provinsiale openbare verhore

Die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) dien tans voor die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) en inwoners van elke provinsie gaan vanaf volgende week die geleentheid kry om kommentaar op hierdie wetsontwerp te lewer. AfriForum doen ’n dringende beroep op gemeenskappe om hierdie verhore by te woon en mondelinge voorleggings teen hierdie drakoniese wetsontwerp te lewer. Die verhore sal op 18 September in die Wes-Kaap ’n aanvang neem.

Indien die wetsontwerp deurgevoer word, sal die impak van die NGV uiters verwoestend wees. Dit sal onder meer aan die minister van Gesondheid onredelike mag oor die privaat gesondheidsektor gee, lei tot ’n drastiese uitvloei van mediese kundigheid uit Suid-Afrika, en ’n ondraaglike las op belastingbetalers plaas. 

“Dit is belangrik dat die publiek die provinsiale verhore bywoon om die NGV op elke moontlike wyse teen te staan. Groter teenstand deur gemeenskappe verbeter die kans om hierdie vernietigende wetsontwerp te stuit,” maan Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor die NGV.

Deelname aan openbare verhore is een faset van AfriForum se omvattende teenstand teen die NGV wat skriftelike kommentaar, skakeling met die gesondheidsbedryf en ’n hofgeding insluit.

“AfriForum dra die gesondheid van alle Suid-Afrikaners op die hart en sal nie toekyk hoe absurde ANC-planne, wat gesondheidsorgvoorsiening totaal sal ontwrig, ongehinderd deurgevoer word nie,” sluit Boshoff af.

AfriForum sal die publiek op hoogte hou van geleenthede vir mondelinge kommentaar in die ander provinsies sodra dit bekendgemaak word. Meer inligting beskikbaar by www.jougesondheid.co.za

Soortgelyke plasings