|

AfriForum Jeug gekant teen beoogde naamsveranderings by Kovsies

AfriForum Jeug neem kennis van die beplande herskrywing van die geskiedenis deur die Universiteit van die Vrystaat, verpak as inklusiewe en progressiewe naamsverandering om transformasie te bevorder.

“Verandering is goed, maar om iets te verander net om die waarheid te vernietig en die konteks te verduister deur dele van die geskiedenis oor te skryf of te ontken sodat die ‘nuwe weergawe van geskiedenis’ beter inpas by die moderne ideologie is nie vordering of eerlike akademiese gebruik nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug sal ondersoek instel oor die beplande naamsveranderinge om meer uit te vind wat die rede is vir die besluit. Die naam Emily Hobhouse kom byvoorbeeld van ’n Christelike, Britse vrou wat vroue en kinders in konsentrasiekampe versorg het. Om hierdie naam te verwyder uit die studente se institusionele kennis, is gevaarlik en wys die eksklusiewe benadering tot die selektiewe gebruik van geskiedkundige figure in die Bloemfontein-omgewing. Hierdie deel van die geskiedenes moet juis onthou word sodat daaruit geleer kan word. AfriForum Jeug moedig die aanbieding van die volledige geskiedenis van Suid-Afrika aan. Al pas dit nie in by die huidige universiteitsbestuur se ideologie of agenda in nie.

Indien van die personeel, dosente of studente meer inligting het in verband met hierdie aangeleentheid, kan hulle dit stuur na jeug@afriforum.co.za waar dit vertroulik hanteer sal word. Raak vandag nog by die kampusse se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos aan jeug@afriforum.co.za of SMS “Kovsies” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings