|

AfriForum se Secunda-buurtwag help om dorp te beveilig

AfriForum se Secunda-buurtwag het die naweek van 27 Julie 2019 aan ’n sigbaarheidsoperasie van die SAPD deelgeneem, waartydens sewe arrestasies gemaak is, onder meer weens die besit van gesteelde goedere, dronkbestuur en misbruik van alkohol in die openbaar.

Die sigbaarheidsoperasie het ’n gesamentlike deelname van 20 AfriForum-, SAPS- en gemeenskap­polisiëringsforum- (GPF-) lede ingesluit.

“Ons besef dat dit belangrik is om met plaaslike rolspelers in die gemeenskap saam te werk. Saam kan ons groter take aanpak en Secunda weer ’n veilige omgewing maak,” sê Dawie de Villiers, voorsitter van AfriForum se Secunda-buurtwag.

Die Secunda-buurtwag het ook in Junie regs- en risiko-opleiding ontvang, wat deur Marnus Kamfer aangebied en deur 15 buurtwaglede bygewoon is. Kursusgangers het ook opleiding in noodweeroptreding ontvang.

“Lede wat die opleiding ontvang het, is van mening dat dit besonders leersaam was en sinvol tot die beveiliging van hul omgewing kan bydra,” sê Dawie Taljaard, ondervoorsitter van AfriForum se Secunda-buurtwag.

Soortgelyke plasings