|

Nuuskommentaar: Taalprobleme en wat uit Sensus 2022 se bevindings geleer kan word

Die bevindings van die nasionale sensus van 2022 is vandeesweek bekendgemaak. Hierdie sensus se vrae was veel minder as in 2011, met die gevolg dat die inligting nie so handig is as wat die vorige keer die geval was nie.

Hierdie kritiek geld onder meer wat die bevindings oor taalgebruik in die land aangaan. In die gedeelte van die verslag met statistiek oor die tale wat in 2022 die meeste tuis gepraat word, is bevind dat Afrikaans steeds die taal is wat die derde meeste as huistaal gebruik word, met Zoeloe in die eerste plek en Xhosa tweede. Engels wat volgens 2011 se sensus die vierde plek beklee het, het teruggeval na vyfde op die ranglys, met Sepedi wat nou die vierde grootste huistaal is.

Ten spyte daarvan dat Afrikaans in die derde plek gebly het, het die posisie daarvan verswak. In 2011 is bevind dat 13,5% van die mense in die land dit tuis gebruik. Dié syfer het nou na 10,6% gedaal. Daar kan nie aangevoer word dat verengelsing die enigste rede hiervoor is nie, aangesien die persentasie Engelse huistaalsprekers van 9,7% tot 8,7% gedaal het. Faktore soos geboortesyfers en migrasie (d.w.s. beide emi- en immigrasie) het beslis ’n groot rol gespeel.

Die syfers hoef nie Afrikaanstaliges moedeloos te stem nie, maar moet ons wel aanspoor om nog sterker op die handhawing van ons taal aan te dring. Afrikaans is – uit meer as 7 000 tale – een van die 120 grootste tale in die wêreld. Boonop is dit ontwikkel tot die vlak waar dit op alle terreine beoefen kan word, of dit nou vir die beoefening van wetenskap of skep van letterkunde is. Hierdie is ’n prestasie om op trots te wees en jaloers te bewaak, sodat dit nie stagneer of selfs kwyn nie.

Ten einde Afrikaans te beskerm en bevorder, is daar eenvoudige maatreëls wat elkeen van ons kan tref.

Ten eerste moet ons enkelmediuminstellings ondersteun – van skole tot tersiêre instellings soos Akademia, Sol-Tech en Aros. Waar Afrikaans of ander kleiner tale teen ’n groot wêreldtaal soos Engels meeding, sal die sterker taal oplaas die ander een verdring. Om dus te dink dat dubbel- of parallelmediuminstellings ruimte vir Afrikaans skep, is ’n drogbeeld. Dit is ook waarom ons die omstrede Bela-wetsontwerp moet teenstaan en moedertaalonderrig ten alle koste moet beskerm.

Verder moet ons taalproduksie ondersteun. Sommige van ons kan produkte in Afrikaans skep – dink maar aan bemarkingsmateriaal, musiek, toneelstukke en boeke. Al is ’n mens nie so talentvol nie, kan jy steeds die produkte wat geskep word, ondersteun deur dit te koop of produksies by te woon. Sonder gebruikers en verbruikers gaan daar ook nie meer skeppers wees nie. Ons almal kan meewerk hieraan.

Media en tegnologie speel ’n vername rol in die behoud en groei van die taal. Almal moet dus ook moeite doen om Afrikaanse media te ondersteun. Dink maar aan die rol van radiostasies soos Pretoria FM, en ook meer moderne mediahuise soos Maroela Media wat byna enige tyd en op amper enige plek toeganklik is.

Van tegnologie gepraat, dit is noodsaaklik om van funksies soos Afrikaanse speltoetsers, vertaalprogramme soos Google Translate en Afrikaanse instellings op slimfone gebruik te maak. Ontwikkelaars doen groot moeite om die tegnologie ook in Afrikaans te ontwikkel, maar as dit nie voldoende gebruikers lok nie, gaan die inisiatiewe mettertyd doodloop en ons hierdie keuses verloor. 

’n Taal moet amptelike erkenning geniet. In die geval van Afrikaans het ons met ’n vyandiggesinde regering te kampe, maar dit moet ons juis aanspoor om aktivisties vir ruimte vir ons taal te beding en die spasie wat onder meer die Grondwet daarvoor skep, so deeglik as moontlik te benut. Dat die Grondwet, sensusinligting en selfs organisasies wat veronderstel is om tale te beskerm, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, gebreke het, is ’n feit, maar in plaas daarvan om dit te veroordeel, kan ons dit so ver as moontlik tot ons voordeel probeer aanwend en in die proses ook probeer verbeter.

Nog ’n vername wyse waarop ons ons taal kan ondersteun, is deur ook by organisasies betrokke te raak wat die taal en haar sprekers beskerm of bevorder – instellings in die Solidariteit Beweging, die Afrikaanse Taalraad en VivA is voorbeelde in dié verband.

Ten slotte moet ons ook saamwerk met ander taalgemeenskappe in en buite Suid-Afrika. Ons kan altyd oor en weer die beste praktyke by mekaar leer. Suid-Afrika is nie die enigste land in die wêreld met baie diverse taalgemeenskappe nie. Dit is ook nie ’n las nie, maar ’n kosbare kulturele erfenis wat ons kan koester. Deur saam te werk met ander gemeenskappe wat dieselfde regte vir hulle tale wil hê, as wat ons verlang, kan ons sterk staan teen vyandige owerhede soos die ANC-regering wat ons uit ideologiese oorwegings in homogene, kultuurlose samelewings probeer indwing.

Gemeenskappe met waardering vir hulle eie identiteit, respek vir dié van ander en sterk selfdoeninstellings kan uitsien na ’n belowende toekoms. Al wat dit verg is om eenvoudige stappe soos wat reeds genoem is, te volg en nie teen die negatiewe uitsprake van globaliste en doemprofete vas te kyk nie.

Soortgelyke plasings