| |

AfriForum Jeug-tak pluk ’n (Paas)haas uit die hoed vir Baai se kinders

AfriForum Jeug se Port Elizabeth-tak het dié Paasfees ’n spreekwoordelike haas uit die hoed gepluk vir die kinders van Sherwood. Dié jeugtak het in samewerking met AfriForum se Walker Drive-buurtwag, lede van die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en verskeie ander nooddiens- en sekuriteitsmaatskappye Paaseiers uitgedeel en die buurt se kinders op dié manier in die vreugde van Paasfees laat deel.

ADT, Extreme Security, CityWide Security, Atlas Security en die nooddiensmaatskappy Bester EMS het ook aan dié prettige projek deelgeneem.

Volgens Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, was die kinders verheug oor dié soete verrassing. “Dit was ’n lieflike gebaar wat vreugde vir dié gemeenskap gebring het,” verduidelik hy.

Die AfriForum Jeug-tak en die Walker Drive-buurtwag het intussen ook gedurende die afgelope Paasnaweek besoek afgelê by bejaarde inwoners van die Sherwood Rus Aftreeoord om ook dié inwoners in hierdie vreugdevolle tyd te laat deel.

“Ons is dankbaar vir die onderskeie rolspelers wat hierdie jaar se Paasprojek moontlik gemaak het. Gemeenskapslede en ondernemings het op ’n uitsonderlike manier met hierdie projek hande gevat. Met hierdie eenvoudige gebaar het elkeen wat betrokke was ’n positiewe bydrae gemaak en die vreugde ook in die gemeenskap versprei,” sê Van der Walt. “Die Baai se inwoners kan waarlik inspirasie put uit hierdie tipe projekte en hand bysit om ons gemeenskap ’n beter plek te maak om in te woon.”

AfriForum se Port Elizabeth-tak en die Walker Drive-buurtwag werk aan die vestiging van ’n veiliger én skoner gemeenskap. Raak vandag nog by hierdie tak en buurtwag betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings