Ramaphosa en Malema se “grondgrypalliansie” kan anargie veroorsaak; SAPD onkundig


Onverantwoordelike politieke uitsprake deur Julius Malema en die EFF het die afgelope naweek tot byna anargistiese optrede gelei nadat daar op sowat drie plekke in Gauteng gepoog is om grond te beset. Die ANC se aanvaarding van die mosie om grond sonder vergoeding te onteien, is ook ’n dryfveer vir dié onwettige optrede. Boonop getuig die SAPD se swak hantering van die grondgrype in Johannesburg van ’n polisiediens wat nie in staat is om wettige grondeienaars te beskerm nie.
Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, dui die SAPD se onvermoë om op te tree daarop dat hulle self nie die Betredingswet (wetno. 6 van 1959) verstaan nie. Dít volg nadat grondeienaars die hof moes nader om die SAPD te verplig om op te tree.

“Indien jou grond betree word en jy dadelik ’n klag by die SAPD aanhangig maak, móét die SAPD onmiddellik optree en die betreders verwyder – jy hoef nie ’n hofaansoek te bring nie. Die SAPD moes in Johannesburg opgetree het soos wat hulle dié naweek opgetree het om besetters van staatsgrond af te verwyder. Tog blyk dit dat wettige privaat grondeienaars nie met dieselfde ywer beskerm word nie. Ons moet ons afvra of die politieke wil werklik daar is om wettige grondeienaars in Suid-Afrika te beskerm,” voeg Cameron by.

Volgens Cameron het politici – insluitend president Cyril Ramaphosa – se onverantwoordelike gronduitsprake tot hierdie wanorde en wetteloosheid gelei.

Soortgelyke plasings